Groot lof vir toegewyde wetstoepasser
Brigadier Friedl Jonck groot lof gehad vir die man wat meer as 40 jaar verbonde was aan die SAPD.
Daar is onlangs by die Brakpan Polisiestasie op gepaste wyse afskeid geneem van Abraham Peens oftewel Apie (74), soos hy alombekend is.
Dié inwoner, wat min bekendstelling nodig het, het meer as 34 jaar diens aan die SAPD as ‘n polisie reservis gelewer, waar hy die hoë rang van Luitenant Kolonel bereik het, wat op sigself ‘n baie seldsame prestasie as ‘n reservis is.
Na sy uittrede as reservis het hy voortgegaan om die gemeenskap te dien deur by die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) betrokke te raak.
Apie het vir sewe jaar as voorsitter van die Brakpan GPF gedien maar het verlede jaar halt geroep weens sy gesondheid. In totaal was hy agt jaar betrokke by die GPF.
Tydens ‘n geselligheid wat aan die einde van verlede jaar by die Brakpan SAPD gehou is, het die stasiebevelvoerder Brigadier Friedl Jonck groot lof gehad vir die man wat meer as 40 jaar verbonde was aan die SAPD.
LEES OOK: Solidariteit Helpende Hand skenk weer skooltasse
“Dit is nie maklik om ‘n persoon van Apie se kaliber te beskryf of te bedank nie,” het Jonck gesê.
“Apie het vir jare die gemeenskap van Brakpan en die Brakpan SAPD sonder enige vergoeding gedien.
“Hy het altyd ‘n voorbeeld vir ander gestel en hy onthou word as ‘n legende van die dorp,” het Jonck gesê.
“Dit was nooit vir hom te veel om bystand te verleen en leiding te gee waar nodig was nie.”
‘n Houtskild, wat in die toekoms die name van die voorsitters van die Brakpan GPF sal dra, is tydens die samekoms aan Apie oorhandig.
Die skild sal in die Brakpan Polisiestasie ten toon gestel word.
Apie het in ‘n vorige onderhoud met die Herald beklemtoon watter belangrike rol die GPF, wat hom baie na aan die hart lê, in die gemeenskap speel.
LEES OOK: SADAG launches face-to-face support group for men’s mental health




