Hoërskool die Anker verwelkom nuwe Graad Agt leerders
Nuwe graad agt leerders begin hul "Ankerwording".
Hoërskool die Anker het Maandag en Dinsdag hul nuwe Graad Agt leerders ontvang.
Met die intrapslag moes die sogenaamde stinkende straathonde, soos die nuwelinge vir eers sal heet, handeviervoet op die gras kniel en hul “sterte waai” en blaf.
Sommige moes die gras met ‘n skêr sny, ander in kringe huppel of sokkie, en ander moes op die pawiljoen fiets trap en Barbie Girl sing.
Hierdie proses word hul Ankewording genoem.
Die nuweling moes ook baie vinnig die stinkende straathond kreet geleer het waarna hulle in klasgroepe opgedeel is en ‘n toer van die skool meegemaak het.
As deel van hul stinkende straatbrak-tema gaan fondse onder die nuwe leerders ingesamel word om hondekos te koop wat dan aan die Brakpan DBV oorhandig sal word.
Gedurende Januarie gaan al die Graad Agte leerders deelneem aan verskeie aktiwiteite, soos ‘n ouer braai, ‘n Graad Agt kamp, ‘n atletiekdag en dan aan die einde van Januarie, hul groentjie konsert.







