Local newsNews

Egpaar vier 60gelukkige jare

Charles en Marie Hamm vier 60 jaar en doen steeds alles saam.

‘n Egpaar van die dorp, Charles (88) en Marie Hamm (90), het onlangs hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Die twee, wat in Dalpark Proper woon, doen nog alles self in en om die huis en spandeer al hul tyd saam.

Hulle woon vanaf 1962 saam in Brakpan alhoewel Charles sedert 1943 ‘n Brakpanner is, toe hy as kind saam met sy familie na die dorp getrek het.

Charles en Marie is destyds deur ‘n gemeenskaplike vriendin aan mekaar voorgestel. Albei het skoolgegee en hierdie vriendin was ook ‘n onderwyseres.

Hulle het mekaar vir ‘n jaar en ‘n half geken voordat hulle getrou het.

“Ons was net vir ses maande verloof, want ek wou nie te lank wag voor ons trou nie,” het Marie gesê.

Die twee se geheim tot hul suksesvolle huwelik is om alles saam te doen.

“Werk saam, leef saam, gaan saam kerk toe, eet saam, hou saam vakansie, maar doen alles saam,” sê Charles.

Hulle het saam hul huis in Dalpark ontwerp en gebou, saam alles ingerig en Charles het amper al die meubels eiehandig gemaak.

Die eetkamer- en sitkamerstelle het hulle wel gekoop, aangesien daar nie genoeg tyd was om dit te maak toe hulle by hul huis ingetrek het nie.

Die egpaar was vir verskeie jare betrokke by die Gereformeerde Kerk, waar Charles op die kerkraad gedien het en Marie was by die sustersvereniging betrokke.


LEES OOK: Opvolg: Vadoek verkoper ter ruste gelê


Tot vandag toe, doen hulle nog al die huiswerk self. Marie maak skoon en maak kos, maar Charles sit ‘n handjie by waar dit nodig is.

Op sy beurt doen Charles steeds die instandhouding van die huis en tuinwerk en dan skroom Marie nie om te help waar sy kan nie.

Hulle glo daarin om takies self aan te pak, om sodoende besig te bly maar ook om geld te spaar.

“Ons het op dié wyse ons kinders deur skool en universiteit gekry,” het Charles gesê.

Dit is vir beide ‘n seën om net in mekaar se geselskap te kan wees. Marie het verlede jaar ‘n beroerte gehad, wat haar spraak aangetas het, maar dit verhoed hulle nie om met mekaar te kommunikeer nie.

Die paartjie het drie kinders – twee dogters en ‘n seun. Die oudste dogter het twee kleinkinders en die jongste het ‘n vierling, bekend as die Benoni vierling, in die wêreld gebring.

Nadat Marie en Charles getroud is, het hulle albei in Brakpan gewerk. Marie was aflos-onderwyseres by verskeie skole en Charles tegniese onderwyser by Muriel Brand Skool.

Hy was ook departementshoof en sport organiseerder totdat hy op 60 afgetree het.

Charles was by Die Hoërskool Stoffberg (Seunskool) op skool en Marie het op Middelburg skool gegaan .

“Ek was ‘n regte boeremeisie,” vertel sy.

Charles het vir drie jaar by Tukkies medies studeer, maar het ‘n rugbesering opgedoen waarna hy sy studies vir ‘n jaar moes staak. Daarna het hy by die Heidelberg Onderwyskollege sy onderwys studies voltooi.

Marie verkies om Bybelstudie te doen in haar eie tyd en Charles hou van blokkiesraaisels invul.

Beide is dit eens dat hulle tot nou toe ‘n lang en vol lewe saam geniet het en die viering van hul 60ste huweliksherdenking was beslis ‘n hoogtepunt van baie gelukkige jare.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button