Brakpan inwoner en gesoute musikant, Henke Vorster (55), het tydens die onlangse Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings weggestap met toekenning vir die beste instrumentale album (Boeremusiek).
Dit is egter nie die eerste keer dat Henke ‘n draai op die Afri-Indi verhoog maak nie. Hy het twee jaar gelede die toekenning vir beste tradisionele album (Boeremusiek) gewen.
Die musikant van Dalview maak al vir 43 jaar lank musiek waarvan die afgelope 35 jaar op professionele vlak is.
“Musiek en die vermaakbedryf is my lewe. Ek oefen elke dag ten minste een uur maar soms kan ek vir vier ure per dag op my musiek konsentreer,” het Henke vertel.
LEES OOK: Colourfest to celebrate end of first term
Oor die Afri-Indie toekenning is hy baie opgewonde.
“My platemaatskappy het my ingeskryf en ek het eintlik die toekenningsaand bygewoon ter ondersteuning van my mede-kunstenaars. Ek het regtig nie gedink ek sou wen nie, maar dit was inderdaad ‘n lekker gevoel toe my naam uitgelees is.”
Die talentvolle kunstenaar kan die orrel, klavier, klawerbord en melodika speel.
“My gunsteling is die klawerbord maar ek raak al hoe meer bedrewe met die melodika danksy beurtkrag. Ek het die melodika begin speel omdat dit nie krag vereis nie en deesdae vind ek dat ek die instrument al hoe meer inspan en my vaardigheid daarmee verbeter by die dag.”
LEES OOK: Tweedy Park inwoners sukkel met water, hysbakke
Boeremusiek is iets wat vir Henke baie na aan die hart lê en hy vertel dat sy gunsteling Suid-Afrikaanse kunstenaars van alle tye Flippie van Vuuren en Theo Erasmus is.
“Hulle was kunstenaars van formaat wat nog steeds vir my ‘n inspirasie is. Hul musiek sal vir altyd voortleef.”
Henke vertel ook dat hy binnekort te sien sal wees as ‘n aanbieder van ‘n musiekprogram op televisie. Hy het groot bewondering vir enige kunstenaar maar veral vir plaaslike kunstenaars.
“Ons dorp het mense met ongelooflike talent en my hoop is dat elkeen sy plek in die son sal kry.”



