Local newsNews

Oud-polisieman, Japie Payne oorlede

Payne was in sy jonger dae ‘n rugbyspeler wat uitgeblink het in die sport.

Japie Payne (67), ‘n oud-polisieman van die dorp, is Vrydag oorlede. Hy het jare-lange diens in die SAPD verrig en word deur sy vriende en familie beskryf as ‘n man wie se hand vir niks verkeerd gestaan het nie.

Payne is in Alberton gebore waar hy ook skoolgegaan het.

Hy het op 17-jarige ouderdom begin om homself te bekwaam as polisieman; ‘n beroep wat hy vir meer as 40 jaar beoefen het. Volgens sy dogter Mariska Payne Venter (34) was haar pa ‘n gebore speurder.

“Hy het sy werk elke dag voluit gedoen en vir solank as wat ek kan onthou het my pa nooit ‘n dag van sy werk gebly of sy pligte versuim nie,” het Mariksa vertel.

“Hy was ‘n baie agtermekaar persoon gewees,” het sy bygevoeg.

Payne, was gedurende sy diensjare in die SAPD by onder meer by Brakpan, Crystal Park, Daveyton, Isando en Van Ryn Deep gestasioneer en het gevorder tot die rang van kolonel.

Payne was bekend in die dorp, wat ook die afgelope 40 jaar sy tuiste was. Hy is oorlede in sy huis in Brenthurst, waar hy vir verskeie jare woonagtig was. Volgens Mariska was hy na sy aftrede steeds betrokke by misdaadvoorkoming.

“My pa was daardie persoon wat altyd gereed gestaan het om te help waar hy kon. Hy was ‘n baie streng wetstoepasser, maar in so ‘n mate regverdig dat mense met groot respek opgekyk het na hom.”

“My pa het nooit werklik afgetree nie en was tot en met sy dood altyd besig met een of ander projek.”

Volgens haar was haar pa ‘n familieman wat gelewe het vir sy vier kleindogters. Hy het dit ook geniet om saam met ‘n hegte groep vriende te kuier.

“My pa se dood was ‘n ongelooflike skok. Hy het nooit gekla of gesê as iets makeer nie. Ek was oortuig daarvan hy was ‘indestructible’,” het Mariska gesê.


Japie Payne het diep spore in die dorp getrap.

“Hy was die tipe man wat jou presies laat verstaan het as hy nie met jou saamstem nie of as jy iets verkeerd gedoen het, maar ‘n uur later sou hy alles in sy vermoë gedoen het om te help.”

Payne was in sy jonger dae ‘n rugbyspeler wat uitgeblink het in die sport.

Hy laat ook ‘n seun Jaco Payne (37) en kleinkinders Lucretia Venter (8), Kiandré Payne (5), Caylen Payne (9) en Jayden Payne (10) na. Met die plasing van hierdie berig was die begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

Related Articles

 
Back to top button