Anlea Vermeulen skryf per e-pos:
Ons woon oorkant ‘n park in Brenthurst (wel dit is nie eintlik ’n park nie, maar mense kuier gereeld daar) en laat gewoonlik hul rommel net so wanneer hulle klaar is.
Dit waai in ons erf in want die mense tel nie hulle gemors op nie.
Sondag was weer so dag en daar was ’n groep van omtrent 10 mense, wat volwassenes en kinders ingesluit het.
Die mense het lank gekuier en jolig geraak. Ons het hulle dopgehou toe hulle begin oppak want ek het geweet ons gaan weer papiere en gemors moet optel.
Maar nee, een van die mans in die groep het ’n swartsak uit sy kar gaan haal en almal, selfs ’n kind wat omtrent vyf jaar oud was, het geloop en papiere optel.
Dit is mos hoe dit gedoen word.
Ek hoop maar die mense lees die koerant en lees hierdie want ons wil vir hulle sê dat hulle ’n voorbeeld vir baie ander stel.
Hulle het ook papiere en gemors, wat nie deur hulle daar gelos is nie, opgetel.
Die swartsak wat vol was, is nou wel daar gelos maar dit was netjies toegebind. Dit sal ook help as die stadsraad asblikke in openbare plekke plaas.



