Local newsNews

Opvolg: Gewonde bejaarde bel dogter uit kattebak

Die gewonde bejaarde is in die kattebak van sy voertuig gelaai.

Die dogter van ‘n 75-jarige inwoner van die dorp het die week die angsvolle oomblikke beskryf toe sy ‘n oproep om hulp van haar pa, vanuit die kattebak van sy motor ontvang het nadat hy in die maag geskiet is.

Die bejaarde man het vroeg verlede Donderdag die graf van sy vrou, wat in Augustus 2018 oorlede is, by die Brakpan begraafplaas gaan besoek toe hy deur ‘n gewapende man oorval is.

Die familie het ingestem om met die Herald oor die voorval te praat ter bewusmaking maar op voorwaarde dat name en sekere besonderhede nie bekend gemaak word nie.

“Soos ons verstaan het die man eers die vuurwapen teen my pa se kop gedruk waarna ‘n skoot, wat my pa in die maag getref het, afgevuur is,” het sy dogter (46) vertel.

Daarna het die skieter die beseerde man in die kattebak van sy voertuig gelaai en gepoog om die bejaarde se voertuig aan die gang te kry.

“Gelukkig het my gewonde pa sy selfoon by hom gehad en kon hy daarin slaag om my te kontak en te sê dat hy geskiet is en in die kattebak van sy voertuig by die begraafplaas is.”

Die dogter, wat in die omgewing woon, het haar suster en swaer, wat ook in Brakpan woon, gebel waarna hulle hul pa te hulp gesnel het.

“Met ons aankoms was die motor gesluit en ons kon nie die sleutel vind nie,” het die dogter gesê.

“Daar was ook geen teken van die persoon wat my pa geskiet het nie. Die motorruit aan die bestuurder se kant was gelukkig oop en my swaer het in die kar geklim om by ons pa uit te kom.

“My swaer het die agterste sitplek laat sak sodat ons my gewonde pa uit die voertuig kon kry.”

Die ernstig beseerde man is na ‘n hospitaal geneem waar hy later ‘n operasie ondergaan het.

“Ons voel dat dit op hierdie stadium nie wys sal wees om enige verdere inligting oor my pa bekend maak nie,” het die dogter gesê.


LEES OOK: Verjaarsdag vreugde vir kind wie se pa na heldedaad sterf


“Ons is net ongelooflik dankbaar dat die man nie my pa se selfoon gevat het nie en dat hy nog in staat was om ons te kontak vir hulp. Die blote feit dat daar genoeg sein was vir die selfoon om in die geslote kattebak te werk, is ook ‘n wonderwerk op sy eie.”

Volgens haar, het haar pa sy oorlede vrou se graf byna daagliks gaan besoek.

Die gesin het ook groot lof gehad vir Brenthurst inwoner, Pieter van der Merwe (73) wat hulle te hulp gesnel het.

Van der Merwe doen al vir jare lank, veral op Sondae, diens by die begraafplaas om toe te sien dat besoekers veilig is.

Hy is ‘n kennis van die gesin en het onmiddellik na die toneel gehaas toe hy van die voorval te wete gekom het. Hy is ook vergesel deur lede van die Brakpan GPF.

Die Brakpan SAPD het by monde van Luitenant Kolonel Peet van der Schyff gesê dat die publiek groot versigtigheid aan die dag moet lê wanneer hulle die begraafplaas besoek.


LEES OOK: FOLLOW-UP: Identities revealed in Brakpan North murder-suicide


Van der Schyff het aanbeveel dat mense nie die begraafplaas alleen moet besoek nie.

“Dit hou veral vir bejaarde mense en vroue ‘n gevaar in en waar moontlik moet mense liewer in groepe gaan,” het van der Schyff gesê.

Hy het ook gesê dat mense deurentyd hul oë moet oophou vir verdagte persone.

“Daar is baie wegkruipplek vir kriminele in ‘n begraafplaas en die publiek moet dus hul oë en ore oophou,” het hy bygevoeg.

Daar is individue en organisasies wat van tyd tot tyd diens doen by die begraafplaas en selfs mense begelei tot die grafte van hul geliefdes.

“Dit sal raadsaam wees om grafte te besoek wanneer hierdie tipe van bystand beskikbaar is.”

Hy het bevestig dat ‘n saak van poging to moord ondersoek word na Donderdag se skietvoorval.

Enigiemand met inligting kan die Brakpan SAPD by 011 744 4114 kontak.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button