Oulike kleuterfoto in Brakpan Herald sorg vir ’n spesiale terugblik op matriekafskeiddag
Matrikulante kan steeds hul matriekafskeidfoto's instuur vir publiksie. Stuur die foto en besonderhede na charmadp@caxton.co.za
Chase Douglas (18) is een van Hoërskool Stoffberg se matrikulante wat onlangs die skool se swierige matriekafskeid by die Thabong-onthaalsentrum in Brakpan bygewoon het.
Aan sy sy was Chayanne Thorne, wat vanjaar ook haar matriekjaar aan Hoërskool Hans Moore voltooi.
Die twee het kort voor hul vertrek gou ’n tydjie afgeknyp om deur die Brakpan Herald te blaai. Chase se ma, Elize Douglas, het die oulike foto van die matriekpaar met die Herald gedeel.
Sy het ook in haar argiewe gaan rondkrap en op ’n besondere foto uit 2014 afgekom. Chase het destyds in die uitgawe van 14 Februarie verskyn.
Hy was toe net vyf jaar oud en is by die Flip Flap-kleuterskool afgeneem waar hy vir Katelynn van Rooyen, wat toe vier jaar oud was, ’n speelse piksoentjie ter viering van Valentynsdag gegee het.
Chase, wat tans met sy eindeksamen besig is, beplan om volgende jaar op sy atletiek te fokus en terselfdertyd aan sy toekomsplanne te werk.




