Hartaanval eis Brakpan se “Kersfees-Oom”
Die “Kersfees-oom”, soos vele inwoners hom ook genoem het, het gesorg dat daar altyd ’n Kersvader op sy bakkie was.
Die persoon wat vir die afgelope vyf jaar elke Kersfees vele kinderharte verbly het, is Saterdagaand aan ’n hartaanval oorlede.
Norman James Hunter (54), beter bekend as Rubber Duck, was welbekend in die dorp weens die feit dat hy elke jaar gedurende Desember in sy groen versierde bakkie deur die strate van Springs en Brakpan gery het om lekkergoed aan kinders uit te deel.
Die bakkie was altyd vrolik versier met onder andere liggies en harde Kersmusiek wat aangekondig het dat die bakkie op pad was.
Die “Kersfees-oom”, soos vele inwoners hom ook genoem het, het gesorg dat daar altyd ’n Kersvader op sy bakkie was en kinders en volwassenes het menige aand met groot opgewondenheid gewag vir die bakkie om sy verskyning te maak.
Hunter het ook gedurende Desembermaande kos ingesamel om aan behoeftiges uit te deel en by meer as een geleentheid ’n geskenk uit sy sak gekoop om vir ’n minder bevoorregte kind te gee.
LEES OOK: Besoek nie meer ouers se grafte nie
Sy vrou Trudie Hunter en drie kinders, Adriaan Diederick (35), Bianca Diederick (34) en Esmaré Mans (31) is platgeslaan deur sy skielike afsterwe.
Norman, wat 26 jaar in Brakpan gewoon het, was ook die oupa van 10 kleinkinders en die eienaar van Nelson Sports Bar in Voortrekkerweg.
“My pa het deur die jaar al sy kleingeld gespaar om die nodige versierings te koop om sy bakkie vir Kerstyd te versier,” het Esmaré vertel.
“Hy kon nie wag vir Desembermaande om dit te doen nie en hy het elke aand die grootste glimlag op sy gesig gehad wanneer hy by die hek uitgery het met sy bakkie.
“Hy het altyd gesê dat daar baie kinders in die dorp is wat nie Kersfees kon vier nie en daar was dikwels ’n paar kindertjies wat sy oog getref het. Vir dié sou hy ietsie gaan koop en aan hulle oorhandig het,” het Esmaré vertel.
LEES OOK: Jong renjaer vaar goed in Spanje
“My pa was ’n plat op die aarde mens met ’n hart van goud. Hy was bekend onder die hawelose inwoners van die dorp, want waar hy kon het hy ‘n R2 gegee of ’n brood gekoop. Hy was ’n baie spesiale mens wat deur vele gemis sal word.”
Esmaré vertel ook dat haar pa ’n groot liefde vir visvang gehad het.
“Dit was altyd ons, as gesin se aktiwiteit. My pa sou ons dikwels onverwags wakker maak om te gaan visvang en dit was altyd die vinnigste wat ons ooit opgestaan en aangetrek het.”
Volgens haar was haar pa gesond en het hy op die dag van sy dood glad nie gekla dat hy sleg voel nie.
Hy het Saterdagaand die hartaanval in sy kroeg gehad.
“Talle mense het ons te hulp gesnel en ons is dankbaar vir elke persoon wat op een of ander manier hulp verleen het. Ons kinders en my ma beplan om gedurende die komende Desember, as huldeblyk aan my pa vir die laaste keer met sy bakkie deur die strate van die dorp te ry en hopelik vir oulaas vele kinderharte te verbly,” het Esmaré gesê.




