Metro doen ‘n `halwe job’ sê inwoner
Klagtes aan Ekurhuleni word na bewering gereeld gesluit sonder dat die probleem opgelos word, of volledig opgelos word.

Brakpan Sentraal inwoner, Stoffel Kruger is nie baie ingenome met die diens wat die Stad van Ekurhuleni lewer nie.
Water het, volgens hom, vir ‘n paar weke by die watermeter oorkant sy huis in Kitzingerlaan uitgestroom voordat die probleem opgelos is.
Nou, nog ‘n klompie weke later is die gat om die meter steeds nie opgevul nie, en is die plaveisel nie weer in plek gesit nie.
“’n Mens soebat en kla aanhoudend en hulle doen niks nie, en wanneer hulle uiteindelik iets doen is dit ‘n ‘halwe job’”, sê Kruger.
Nog ‘n steen des aanstoots vir die inwoner is die sypaadjies wat nie deur die stad onderhou word nie.
“Die lang gras en onkruid belemmer motoriste se uitsig op die hoeke van strate, wat ongelukke veroorsaak, het Kruger bygevoeg.
”Mense gooi hul vuilgoed in die lang gras, skelms kruip daar weg, en ons het selfs al vanaf ons stoep toegekyk hoe mense die lang gras op die sypaadjies vir ‘n toilet gebruik.”
Kruger en ander inwoners van die omgewing sny nou self die gras op die sypaadjies op hul eie onkoste.
Daar was teen druktyd nog nie kommentaar van Ekurhuleni, wat oor die situasie ingelig is nie.