Brief: Keelvol vir beurtkrag en swak diens
Dit is belaglik dat dit net deur almal aanvaar word.
Teleurgestelde inwoner van Rand Collieries skryf per e-pos:
Wat gaan aan met ons munisipaliteit? Weet niemand meer hoe om die dorp se krag en water aan te hou nie?
Verlede week was ons vir vier dae sonder krag en my seun in Brenthurst was vir drie dae sonder water.
Ons betaal elke maand ons munisipale rekening want as jy waag om dit nie te doen nie word daar nie gewag om jou dienste te stop nie.
Ek kan nie bekostig om die kos wat ek vinnig moes gaarmaak of weggooi weer te vervang nie. My honde het darem baie lekker geëet.
Dit is belaglik dat dit net deur almal aanvaar word. En asof dit nie genoeg is nie, dan word ons nog met beurtkrag ook gestraf.
Sekerlik kon iemand by Eskom gesien het dat die krag in Brakpan vir dae af was, maar nee, daar is geen genade nie.
Ek weet waar ek hierdie jaar my kruisie gaan trek as dit verkiesing is. Nêrens! Niemand verdien my kruisie agter hulle naam of party nie. Ons is keelvol vir swak diens en beurtkrag. Die dorp en die land is vrot.



