Bakkie tref man toe hy struikel en in pad val
Jaun-dre sterk tans in die Life New Kensington Kliniek in Johannesburg aan.
‘n 22-Jarige man van Anzac, Brakpan het ernstige beserings opgedoen nadat ‘n bakkie oor hom gery het en hy glo etlike meters ver gesleep is.
Die voorval het op 3 April om ongeveer 17:45 plaasgevind toe Jaun-dre Barnard se voertuig in Paul Krugerweg, Springs onklaar geraak het.
Jaun-dre, wat die pa van ‘n een-jarige seuntjie is, was glo op pad huis toe.
Hy het na bewering uit sy motor geklim om vas te stel wat die probleem is en met die loop na sy enjinkap het hy gestruikel en geval.
Enkele sekondes later het die bakkie oor hom gery. Jaun-dre het volgens inligting interne asook ‘n ernstige kopbesering opgedoen.
Hy het ook gebreekte ribbes en ‘n gebreekte sleutelbeen en ander beserings aan sy liggaam.
Hy is aanvanklik in die Verre Oos-Rand Hospitaal opgeneem maar is op 10 April na Life New Kensington Kliniek in Johannesburg oorgeplaas waar hy tans behandel word.

Sy ma, Angelique Barnard het aan die Advertiser gesê dat haar seun by tye baie deurmekaar is.
“Hy kan nie eers onthou dat hy ‘n klein seuntjie het nie.”
Angelique sê dat sy kan sien dat haar seun in erge pyn is.
“Dit is vir ons baie moeilik om hom so te sien. Ek weet nie eers of hy ooit volkome gaan herstel nie,” het Angelique gesê.
Daar is baie onsekerheid oor hoe Jaun-dre se pad na herstel lyk.
“Ons is bang die breinbeserings haal hom later in sy lewe in, dit is waarom ons nou vir hom die beste moontlike mediese sorg moet kry.”
Benewens die gesondheid van haar seun bekommer sy haar ook oor die mediese onkostes. Die gesin het ‘n finansieringsveldtog op BackaBuddy gestig om vir Jaun-dre se mediese uitgawes en sy rehabilitasie, wat nog voorlê, te help betaal.
Persone wat wil bydra tot die mediese onkoste kan die skakel gebruik.
https://www.backabuddy.co.za/campaign/medical-funds-for-jaun-dre



