Local newsNews

Dalview se geliefde dokter hang sy stetoskoop op ná 40 jaar

Dokter Vermeulen het homself vir 40 jaar aan Dalview Dokters toegewy.

Eienskappe van ‘n goeie dokter is om ten alle tye professioneel op te tree en empatie, sowel as deernis vir jou pasiënte te hê, en daarvan het dr Fred Vermeulen (71) homself deur vele jare baie goed van sy taak gekwyt.

Hierdie bekende huisdokter van Dalview het onlangs afgetree na jare se toewyding in die mediese veld. Hy het vir afgelope 40 jaar by die Dalview Dokters spreekkamers gepraktiseer.

Hy staan nie net bekend as ‘n goeie algemene praktisyn nie, maar was ook vertroud met bevallings sowel as om narkose toe te dien. Vermeulen is in die Vrystaatse plaas dorpie, Marquard gebore en het sy grootword jare daar deurgebring.

Medisyne was nog altyd iets waarin hy belang gestel het en daarom het hy eers besluit om aptekerswese te studeer en na ‘n jaar van praktiese ondervinding het hy egter besef dat dit nie eintlik is wat hy wil doen nie.

Later het hy sy mediese graad aan die Universiteit van Bloemfontein voltooi. Hy het in 1981 sy praktiese jaar in Benoni voltooi en kort daarna sy praktyk in Dalview op die been gebring.


Dr Fred Vermeulen sal steeds uithelp wanneer die praktyk hom benodig.

Hoewel dié 71-jarige dokter reeds einde Januarie die tuig neer gelê het, staan hy tans vir ’n ander dokter in. Volgens hom sal hy egter steeds beskikbaar wees wanneer die praktyk hom nodig het.

“Ek moet sê ek gaan beslis die interaksie met die mense die meeste mis. Ek het dit baie geniet om met my pasiënte te gesels en elke pasiënt was vir my ‘n uitdaging,” vertel Vermeulen en voeg by dat hy oneindige onvergeetlike oomblikke by die praktyk ervaar het.

“Ek het lekker saam met baie mense gewerk en wanneer ek byvoorbeeld terugdink aan die Covid pandemie waardeur ons is, sal ek altyd onthou hoe die personeel mekaar gesteun het.

“Dit was byna soos ‘n veldhospitaal hier en hoegenaamd nie ‘n tydperk wat ek wil oorhê nie, maar as dit nie vir die personeel was nie, sou dit nog meer ondraaglik wees,” het hy gesê.

“’n Les wat ek in my tyd as dokter geleer het is hoe belangrik jou verhouding met mense is. ’n Mens kan nie net ‘n goeie dokter wees, met die kennis wat jy het nie, jy moet ook ‘n mense-mens wees wat jou pasiënte op hulle gemak stel en die diagnose korrek oordra.”


LEES OOK: City explains borehole application process


Vir hom is sy praktyk, wat deesdae totaal papierloos werk, en slegs digitaal bestuur word, een van die grootste veranderinge waaraan hy oor die jare gewoond moes raak.

Vermeulen het dit al die jare reggekry om ‘n goeie balans tussen werk en familie te handhaaf. Hy meen dat sy gesin vir hom belangrik is en daarom was dit vir hom ‘n prioriteit om gesinstyd te hê.

Vir hom is sy gesondheid baie belangrik en hy geniet dit om fiks te bly. Hoewel hy baie beskeie is, erken hy dat hy al vier keer die Comrades Marathon gehardloop het asook verskeie kere die Cape Argus gery het.

Hy geniet dit vandag nog om vroegoggende ‘n draf- of fietsry-sessie voor werk in te kry en is van plan om fiks te bly totdat sy gesondheid dit nie meer toelaat nie. Sy raad aan pas gegradueerde dokters is om elke geleentheid met beide hande aan te gryp.

“As jy in ‘n algemene praktyk wil werk dan moet jy dit ook vir jouself lekker maak om elke dag werk toe te kom.

“Daar sal altyd geleenthede oor jou pad kom, jy moet dit net aangryp,” sê hy.

Vermeulen sien daarna uit om sy aftrede saam met sy vrou, Eldri (70) wat vir jare lank as apteker by Dalview Hospitaal gewerk het, te geniet.

Sy het reeds ‘n paar jaar gelede afgetree en dié twee beplan beslis nie om ledig te sit nie. Hulle geniet beide die buitelewe en is gemaklik daarmee om te kamp.

Volgens Vermeulen sal hy graag vir ‘n maand by die wildtuin wil uitrus. Hy het ook ‘n Bonsai versameling wat sy aandag gaan verg en is handig wanneer dit by houtwerk kom.

Vermeulen het oor die jare ‘n hegte band met sy pasiënte gevorm en die praktyk bied sy pasiënte die geleentheid aan om hom op 26 Maart tussen 14:00 en 16:00 te groet.

Dokter Tane Mitton, wat al twee jaar lank by Dalview Dokters locum, sal by Vermeulen die leisels oorneem.



LEES OOK: Local swimmer set to make waves at Treviso Swimming Cup in Italy

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button