Brakpan Rugbyklub gee erkenning aan sy staatmakers tydens prysuitdeling
Rugbytalent en toewyding gevier is tydens die Brakpan Rugbyklub se jaarslikse prysuitdeling gevier.
Die Brakpan Rugbyklub het Saterdagaand tydens sy jaarlikse prysuitdeling hulde gebring aan die spelers, afrigters en borge wat die afgelope seisoen besondere bydraes op en van die veld gelewer het.
Erkenning vir harde werk, lojaliteit en uitsonderlike rugbytalent was aan die orde van die aand. Franco Booysen, klubkaptein, het die prysuitdeling waargeneem en gesê dat die klub op ’n goeie plek is.
“Ons is vanaand nie slegs hier ter viering van prestasies nie, maar ook omdat ons trots is op die klub waar dit tans staan,” het hy gesê.
“Die passie van ons voorsitter, Frikkie Bosman, het mense van die klub, maar ook van Brakpan, laat opstaan om dinge weer aan die gang te kry,” het Booysen bygevoeg.
Bosman het op sy beurt gesê dat die klub ’n baie suksesvolle jaar beleef het. Hy het bygevoeg dat die bestuur dit as ’n doelwit gestel het om te verseker dat die klub die nommer een-rugbyklub word.

Die toekennings vir die aand was soos volg:
Zamian Martin is as Senior Speler van die Jaar aangewys, terwyl Christopher Swart die Speler se Speler van die Jaar-toekenning, asook die Voorspeler van die Jaar-toekenning, ontvang het.
Rudy van Schalkwyk is as die beste tweedespanspeler (Lilly Whites) aangewys, en Bradley van Niekerk is as Junior Speler van die Jaar (o.21) bekroon.
AJ Roux het met die toekenning vir die Mees Gevorderde Speler weggestap, terwyl Divan Moss as Agterspeler van die Jaar aangewys is.
Menzi Nxumalo het die Losvoorspeler van die Jaar-toekenning ontvang.
Tjaart Scheepers het met ’n indrukwekkende 269 punte, wat hy gedurende die seisoen aangeteken het, as die klub se voorste puntemaker uit die stryd getree.
Banele Kutumela het die meeste drieë aangeteken, met ’n totaal van 37. Michael Spanner Bekker het die toekenning vir die klub se Mees Lojale Persoon ontvang. Die Stoutgat van die Jaar-toekenning het aan Clayton Gindan gegaan.











