Teaterdag: Kenner deel haar passie
Hierdie jarelange inwoner van Brakpan is betrokke by jaarlikse kinderteater produksies.

Vandag, 28 Maart, is Wêreld Teaterdag en die plaaslike kultuur kundige, Elize Steenkamp, het met die Brakpan Herald gesels oor haar ervaring in die drama sfeer.
Vir Steenkamp beteken Teaterdag,“Dis die viering en bewusmaking van die prag, kreatiwiteit, arbeidsadel en kunstenaarskap rondom alle aspekte van teaterproduksie.
“Teater speel ‘n onmiskenbare rol in opvoedkunde, kulturele bewustheid en vermaak. “Drama in geheel lewer ook ‘n belangrike bydrae tot die vorming en slyping van die jeug, wie ‘n sleutelrol in ons toekoms speel,” sê sy verder.
Met teater is daar ‘n magdom temas en boodskappe vir die gehoor om huis toe te neem, maar vir Steenkamp is die belangrikste boodskap hoop.
Op die vraag oor wat die inspirasie was vir Steenkamp om by teater en verskeie kultuur instansies betrokke te raak sê sy, “As kind was dit as gevolg van die vermaaklikheidswaarde, maar later jare meer oor die boodskappe wat teater inhou, asook die ontwikkelingswaarde vir individue wat wissel van die bou van selfbeeld, tot die terapeutiese waarde in toenemend uitdagende omstandighede.
“My betrokkenheid by verskeie kultuur instansies het ontstaan uit my liefde vir die kunste en ‘n groeiende gemeenskapsbehoefte vir tradisionele platforms, waar talent uitgeleef en ontgin word deur die kundige repliek van geakkrediteerde vakgebied meesters,” sê sy.
Steenkamp en haar kollegas in die veld is betrokke by jaarlikse kinderteater produksies. Hulle is verantwoordelik vir die teks, regie, klank en beligting, en die produksie word uiteindelik voor uitverkoopte gehore opgevoer.
“As ek een produksie moet uitsonder, is dit die tienertoneel MIS deur Reza de Wet waarby ek betrokke was. Ek moes die oorspronklike teks 50% verkort wat goedgekeur was deur André Stolz wat die opvoer regte besit.
“Hy was so beïndruk dat hy gevra het of hul my verkorte teks kan gebruik vir ‘n moontlike film,” sê Steenkamp.
Van ‘n droom produksie het Steenkamp nie veel te sê nie.
“Ek het nog nooit die begeerte tot roem gehad nie en is heeltemal vergenoegd met my huidige kulturele betrokkenheid,” verduidelik sy.
Sy nooi wel die publiek uit om betrokke te raak by teater, veral deur produksies by te woon en in die jeug ‘n liefde daarvoor te kweek.
LEES OOK: Brakpan SAPS engages with community through outreach programme
“Ons gemeenskap het lui geword, en wil net produksies kyk wat met ‘n afstandbeheer werk,” sê sy tong-in-die-kies.
Die toekoms van Teater in Brakpan is volgens Steenkamp verbasend goed.
“Brakpan is kultuur gedrewe en geseën met talent op skoolvlak, asook belese drama-opvoeders wat help om die kultuurpot aan die kook te hou.”
Digitale platforms is volgens haar nie ‘n bedreiging vir die tradisionele teater nie, maar ‘n geleentheid.
“Dit skep addisionele platforms en diversiteit,” sê sy.
Steenkamp se trots op die oomblik is haar bydrae aan ’n boek.
“Ek was genader om die hoofstuk oor span redenaars te skryf in die boek Dames en Here, uitgegee deur Lapa met die ATKV as mede verspreiders. Die boek was aangewys as Litnet Kroonboek, waarop ek ongelooflik trots is.”