Gebreekte vensters, weeluise en kokkerotte teister bejaardes by Tweedy Park
Inwoners beweer hulle word geïntimideer wanneer hulle klagtes indien voor die onderhoud van die perseel.
Daar is blykbaar nie lig aan die einde van die tonnel vir al die probleme wat die inwoners van die woonsteblok van die Tweedy Park Ouetehuis ervaar nie.
Noudat die huisbak weer werk is daar ander probleme wat opduik; van gebreekte vensters wat nie vervang word nie na ‘n plaag van weeluise en kokkerotte.
Dick Handford, ‘n inwoner by die woonstelle, het ongeveer vier maande gelede wakker geword toe ‘n venster van sy woonstel, tydens ‘n haelstorm gebreek is.
Alles op sy kombuistafel is stukkend of beskadig gelaat, en die hael het later gesmelt en waterskade in sy woonstel veroorsaak.
Sedertdien moes hy karton, hout en plastieksakke inspan om die groot gaping waar sy ruit was, toe te maak.
Tog bied dit nie veel beskutting teen die weer wat Brakpan die laaste ruk ervaar het nie, en is Dick bekommerd oor die winter wat vining nader kom en sy woonstel yskoud sal laat.
LEES OOK: Meat World pulls out the stops for 30th birthday celebration
Omdat hy op die sesde vloer is, is installasie fooie vir ‘n nuwe ruit buitensporig vir ‘n mens wat net op ‘n SASSA pensioen moet klaar kom.
Volgens Dick is dit eintlik ook die verantwoordelikheid van die opsigter wat deur die Stad van Ekurhuleni aangestel is om herstelwerk en onderhoud te behartig.
Nog ‘n klagte is dié van die weeluise en kokkerotte wat die woonstelle blykbaar oorneem. Een inwoner, wat anoniem wil bly, beskryf dit so: “Hulle (die kokkerotte) is al so ‘cheeky’ hulle loop net helder oor dag by jou voordeur in.”
Die weeluise laat ook geen ruskans toe nie, en verskeie van die inwoners het al hul matrasse en beddegoed uitgegooi omdat hulle nie die plaag onder beheer kan kry nie. Nou slaap hulle op die vloer, in die ongemak en koue.
“Dit help nie jy ‘fumigate’ jou woonstel nie, want die hele gebou is oortrek, so hulle kom net weer terug. Die metro moet die hele gebou ‘fumigate’ en vir die inwoners ander heenkome intussen aanbied,” het die inwoner gesê.
LEES OOK: Students steal the spotlight at dance competition held at Cosy Corner
Boonop is die koste om ‘n woonstel te berook ook buitensporig vir die inwoners, aangesien baie van hulle ook net op ‘n Sassa pensioen leef.
“Ons weet nie meer waarheen om te draai vir hulp nie. As ons behuising toe gaan sê hulle vir ons dat indien ons weer kla gaan hulle ons uitsit,” het die inwoner gebieg.
Dit is ook nie die eerste van sulke klagtes nie.
Sommige inwoners, wat op 29 Maart vrywillig ‘n gedeelte van die perseel skoongemaak het (Elderly residents take action) beweer dat die metro, wat eintlik vir die instandhouding van die perseel verantwoordelik is, hulle gedreig het met boetes.
Die metro is genader vir kommentaar oor die weeluise en gebreekte vensters, sowel as die klaarblyklike intimidasie en dreigemente, maar teen druktyd is daar nog nie kommentaar ontvang nie.



