Dalview inwoner stel nuwe nasionale rekord op
Leendert Koekemoer het die o20 nasionale tyd verbeter nadat die laaste een 31 jaar terug opgestel is.
Leendert Koekemoer, ’n matriek leerder aan Helpmekaar Kollege en inwoner van Dalview, het op 25 April by die Atletiek Suid-Afrika Nasionale Senior Kampioenskappe ’n nuwe rekord in die o20 mans 400m naelloop los gehardloop.
Die nasionale rekord het reeds 31 jaar gestaan, maar Leendert het by die NWU McArthur Stadion met 45.03 in die halfeind die nuwe beste tyd aangeteken.
Hy het ook in die finaal eerste geëindig met 46.45 in die vierde baan, wat steeds die beste tyd algeheel was.
“Leendert is trots op homself. Hy is dankbaar dat hy kan hardloop en vir die geleentheid om deel te neem,” sê Leendert se pa, Lourens.

“Hy is ook dankbaar dat hy ’n inspirasie kan wees vir ander atlete.”
Die vorige rekord is in 1994 deur Riaan Dempers opgestel met 45.15. Leendert het in ’n strawwe wedloop teen die voormalige Suid-Afrikaanse senior kampioen, Gardeo Isaacs, gehardloop.
In Februarie vanjaar het Leendert tydens ’n byeenkoms by die Pilditch Stadion in Pretoria, tydens die Curro Podium finaal, ook die o20 400m rekord verbeter met ’n tyd van 45.60. (Geen keer aan oud-Morrie atleet wat rekords laat spat, 17 Februarie 2025.)
Sy doel is om in Mei aan die wêreld kampioenskappe in China deel te neem as deel van die 4x400m aflos span, en daarna ook deel te wees van die nasionale 4x400m span wat in September in Tokio, Japan, deelneem.
LEES OOK: CoE urges parents to stay on track with vaccinations
LEES OOK: Die Hoërskool Stoffberg se top akademiese presteerders aangekondig



