Local newsNews

Man voer stryd ná amputasie van sy been

Die ongeluk het 'n groot impak op die 44-jarige man se lewe gehad.

’n 44-jarige man van Sherwood Gardens se lewe is onherroeplik verander toe hy op 8 Februarie in ’n ongeluk betrokke was, wat tot die verlies van sy been gelei het.

Die beserings aan Boet Visage se regterbeen was van so ’n aard dat dokters dit nie kon red nie. Sy been is op 1 April onder die knie geamputeer.

Nie net het dit hom sy vryheid om te kan loop ontneem nie, maar het ook veroorsaak dat hy nie meer kon werk nie, aangesien hy ’n motor bestuurder vir ’n onderneming was.

“Ek was die dag van die ongeluk op die motorfiets van ’n kennis toe ’n persoon ’n stopteken verontagsaam en in my vasgery het,” het Boet vertel.

Omdat hy nie oor ’n mediese fonds beskik nie, is hy in die Verre Oos-Randse Hospitaal opgeneem, waar hy twee maande deurgebring het.

Daardie ongeluk het alles verander. Sy grootste uitdaging op die oomblik is dat hy nie oor ’n rolstoel beskik nie.

Hy het wel ’n plasing op Facebook gemaak waarin hy gevra het vir ’n rolstoel, en ’n goedhartige persoon het een aan hom geskenk.

“Ek is baie dankbaar daarvoor en gebruik dit by my blyplek, maar ongelukkig is dit te klein vir my en kan ek nie goed daarmee oor die weg kom nie.”

Aangesien hy tans geen inkomste het nie, moet hy staatmaak op hulp; ’n situasie waarin hy nie graag wil wees nie.

Hy was Dinsdag by die Verre Oos-Randse Hospitaal om steke uit sy been te laat verwyder.

“Dit was al twee weke laat, maar ek kon eenvoudig net nie by die hospitaal uitkom nie. ’n Vorige keer het iemand vir my ’n geleentheid aangebied, maar moes ek terugstap na my blyplek op een been, met die hulp van my krukke.

Boet Visage se regterbeen kon nie gered word en is onder die knie geamputeer.

“Ek is bereid om enige werk te doen, solank my huidige toestand dit toelaat. As ek ’n inkomste kan verdien, kan ek met Bolt van punt A na punt B ry. Ek wil net graag onafhanklik wees.”

Hy vertel hy woon tans by iemand wat goedhartig teenoor hom is.

“Maar ek is ’n man, en ek voel ek moet werk en my kant ook bring.”

Boet vertrou dat hy eendag ’n prostese sal kan kry, maar dit gaan tyd neem.

“Die dokters het vir my gesê dit kan tot ’n jaar neem voordat dit ’n werklikheid kan word,” het hy gesê.

Intussen hoop hy dat iemand ’n geskikte rolstoel aan hom kan leen of skenk sodat hy kan aanpas by sy huidige omstandighede.

En natuurlik is sy grootste hoop dat iemand vir hom werk sal kan aanbied wat hy ten spyte van sy gestremdheid sal kan verrig.

Persone wat met Boet in verbinding wil tree, kontak hom by 062 946 8227.

Lees ook: Kinderhuis benodig dringend winter klere

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button