Sonneveld Akademie onderwyser tree af na 38 jaar in die onderwys
Die skool neem 30 Mei afskeid van die geliefde graad 1 juffrou.
Brenthurst-inwoner Jane Weber (60) het onlangs afgetree as Graad Een onderwyseres; ‘n beroep wat sy sedert 1987 met passie uitgeleef het.
Jane het haar loopbaan begin aan die Laerskool Dunottar en was al die jare daar werksaam totdat sy in 2018 ’n pos by Sonneveld Akademie aanvaar het.
Haar man, Steven Weber (61), is die huidige hoof van die skool.
“Sy is nie net die Sonnies se geliefde Graad Een-juffrou nie, maar was ook die fasehoof van die grondslagfase,” sê Mariette van der Walt, een van Jane se kollegas.
“Daar is niks doodgewoon aan hierdie juffrou nie.”
Een van die hoogtepunte in Jane se loopbaan is haar bevordering tot grondslagfase-departementshoof in 2005 by Laerskool Dunottar.
“Elke jaar is eintlik vir my ’n hoogtepunt,” het sy gesê.
Om te sien hoe die klein mensies, wat aan die begin van die jaar so onseker is en nie kan lees of skryf nie, aan die einde van die jaar selfstandig is, sinne kan skryf en kan lees, is vir Jane ’n jaarlikse hoogtepunt.
Uitdagings sluit kurrikulumveranderinge, spertye en die magdom administrasie in.
“Ek gaan al die administratiewe werk en die hope nasienwerk nie mis nie,” het sy verduidelik.
LEES OOK: Stronger community support needed amid rising crime concerns
Wat sy wél sal mis, is die kinders se vriendelike gesiggies, geselsies en drukkies.
“Kinders is geskenkies van God,” verduidelik sy.
Nou dat sy amptelik op pensioen is, wil Jane graag reis, meer gereeld by haar kinders in die Kaap en die VSA kuier, en ou vriendinne opsoek en by hulle kuier. Jane het twee seuns, Steven (35) en Wihan (32) Weber. Steven woon in die VSA en is getroud met drie kinders. Wihan woon in die Kaap en is verloof.
“Ek gee alle dank aan ons Hemelse Vader dat Hy aan my die gesondheid, wysheid, krag en geduld gegee het om sy koningskinders te kon leer en ontwikkel,” het sy mee afgesluit.
LEES OOK: Ekurhuleni inspects spaza shops for health and safety compliance



