Plaaslike model Natalie Krause wen twee gesogte titels in een naweek
Die matriekleerder by Hoërskool die Anker het by beide kompetisies die hoogste punte vir die dag ontvang.
Natalie Krause (18) van Dalpark het onlangs behoorlik die toekennings en titels ingeryg by twee skoonheidskompetisies: Pageants SA se Miss, Mr and Sir Junior Africa én Best Model SA.
By die Miss Junior Africa-kompetisie is Natalie met die Junior Queen of Africa-kroon bekroon, het sy die titel Miss Junior Africa verower en ook die hoogste punte vir die dag aangeteken.
As bonus het sy tydens die kroningsgeleentheid ’n handgemaakte hoed ontvang — ’n uiters gesogte eerbewys. Op dieselfde dag het sy aan Best Model SA deelgeneem, waar sy nie net die titel gewen het nie, maar ook weer die hoogste punte van die dag behaal het.
Daarbenewens is sy as Best of the Best SA Female Model aangewys. Natalie doen reeds modelwerk vandat sy drie jaar oud is, en het al meer as ’n duisend titels op haar naam.

Haar grootste inspirasie is haar pa, Deon Krause, wat nie net haar afrigter is nie, maar ook die eienaar van SA All Star Model Academy.
“My pa glo nog altyd in my. Hy inspireer my om my beste te gee en is altyd aan my sy. Hy ondersteun my agter die verhoog, hou my positief en sorg dat ek op my beste lyk,” het Natalie vertel.
Deon ontwerp ook haar aandrokke vir kompetisies, terwyl Ina De Beer in Klerksdorp dit vervaardig.
Natalie droom daarvan om eendag haar pa se modelskool oor te neem en jong meisies te inspireer om in hulself te glo — op én van die loopplank af.
“My grootste droom is om eendag Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig,” sê sy.
LEES OOK: Gauteng healthcare staff embrace service, empathy in new campaign
Sy wil ook voortbou op haar bestaande liefdadigheidswerk, veral by ouetehuise in Brakpan, aangesien bejaardes haar na aan die hart lê.
Sy is tans ’n leerder aan Hoërskool Die Anker, waar haar gunstelingvakke Wiskunde en Afrikaans is. Afrikaans is boaan haar lys, danksy die passievolle onderwyser wat dit aanbied. Natalie is ook ’n lid van die uitvoerende raad en die verteenwoordigende leerlingraad (VLR).
Na skool beplan sy om by haar ma, Mariette Krause, se rekeningkunde-firma te werk, terwyl sy terselfdertyd haar pa help met opleiding by die modelskool. Sy wil eers haar tyd neem voordat sy besluit wat om te studeer.
Haar volgende mikpunt in die modebedryf is deelname aan Miss Junior South Africa in Maart volgende jaar — en sy mik om ook daardie titel huis toe te bring.



