VIDEO: Klein brandslagoffer gegroet met roerende afskeid
Roosblare en wit duiwe het ’n roerende laaste eer aan die jong Super Hero gebring.
Die ouers, familie, vriende en belangstellendes het vandag (Dinsdag) afskeid geneem van die jong brandslagoffer, Wanru Meyer.
Dié vierjarige seuntjie is op 22 Junie dood toe ’n brand in sy ouerhuis in Queenlaan uitgebreek het. Hy het saam met sy jonger boetie, Caleb (2), in ’n kamer geslaap toe die brand ontstaan het.
Sy ouers, Armand Meyer (23) en Makayla Strauss (22), kon daarin slaag om saam met Caleb uit die brandende huis te ontsnap.
Die diens, om sy kort lewe op aarde te vier, het vanuit die AGS Kerk, Lofoord in Springs plaasgevind, waar past. Niel Smit ’n kragtige boodskap gelewer het.
’n Uiters somber atmosfeer het in die kerk geheers toe Armand en Makayla laaste ingestap het met die kissie wat hul kind se oorskot bevat het.
Mense het hoorbaar gesnik terwyl die ouerpaar mekaar ondersteun het.
Smit het gesê dat Wanru ’n “legend” en ’n held was. Hy het gesê dat die klein seuntjie altyd onthou sal word vir sy glimlag en sy bereidwilligheid om te help.
“Hy was ’n superheld in klein skoene, wat altyd sy mamma of pappa wou help.
“Hy was lief vir diere en hy was nie bang vir spinnekoppe nie. Wanneer hy kon visvang, was hy ook baie gelukkig,” het Smit gesê.
“Sy lewe moet vir ons ’n inspirasie wees, want Wanru het nie voorgegee nie; wat jy gesien het, is wat jy gekry het,” het hy gesê.
“Wanru sal voortleef as ’n superheld in almal se harte.”
Nadat daar na ’n skyfievertoning gekyk is, het die mense na buite beweeg waar die laaste eer aan Wanru betoon is deur roosblare rondom sy kissie neer te lê. Daarna is wit duiwe, wat ’n paar keer om die kerk gevlieg het, vrygelaat.








