Oos-Rand Sakevroue terug met nuwe komitee en nuwe visie
Die Meet and Greet-ontbyt, aangebied by Madeleine’s Venue and Coffee Shop in Benoni op 2 Julie, was meer as net ’n netwerkgeleentheid; dit was ’n herontmoeting van susterskap, steun en ondernemingsgees.
Met vars koffie in die hand en ’n heerlike ontbyt het die Oos-Rand Sakevroue hul eerste vergadering in ses maande gehou – en dit was beslis ’n oggend vol betekenis.
Die Meet and Greet-ontbyt, aangebied by Madeleine’s Venue and Coffee Shop in Benoni op 2 Julie, was meer as net ’n netwerkgeleentheid; dit was ’n herontmoeting van susterskap, steun en ondernemingsgees.
Een van die oggend se hoogtepunte was ’n insiggewende toespraak deur Pete Beart, voorsitter van die Eastern Highveld Beekeepers’ Association, wat nie net die waarde van ware heuning uitgelig het nie, maar ook die gevare van “fake honey” in winkels bespreek het.
Gaste is aangemoedig om sulke produkte by die relevante owerhede aan te meld.

“Alles wat in die produk is, moet duidelik aangedui word,” het hy uitgewys.
Hy het voorbeelde gewys van produkte wat lyk asof daar heuning in is, maar wat in werklikheid nie regtig heuning bevat nie.
Hy het voorbeelde gewys waar dit blyk of daar heuning in ‘n bottel is, maar dat dit nie regtig heuning is nie. Verder het die gaste lief en leed gedeel, gelag, gesels en mekaar weer opnuut bemoedig.
Karen Herbst, voorsitter van die Oos-Rand Sakevroue, het die geleentheid as ’n groot sukses beskryf.
“Ek moet dit toeskryf aan ons koste en die getal dames wat die geleentheid bygewoon het. Dit was ons eerste vergadering in ses maande, en die dames het dit só geniet om mekaar weer te sien.

“’n Hoogtepunt was die ou komiteelede wat die geleentheid bygewoon het, en dat Susan Noppe ná ’n lang siekbed die funksie kon bywoon. Ons is dankbaar vir elke dame wat tyd afstaan om ons te ondersteun,” het Herbst bygevoeg.
Die toekoms van die Sakevroue lyk blink en hul spog met nuwe komiteelede, Helma Viljoen en Ciska Scheepers.
“Ons is weer terug op ons pos met nuwe komiteelede, en ons sal weer meer gereeld sulke geleenthede hou.
“Ons wil ook meer fokus op die ondersteuning van enkeleienaarbesighede – om hulle te bemark en ’n platform te bied waar hulle kan uitbrei,” het sy bygevoeg.








