Local newsNews

Uitgewer verhuis na Brakpan, vind die dorp rustig en vriendelik

Sy is besig om internasionaal uit te brei met haar besigheid, maar doen steeds amper alles self.

Leigh-Anne Bowley Hill, nuwe inwoner van Sonneveld, is ‘n internasionale boekuitgewer wat onlangs na Brakpan verhuis het.

Hulle het besluit om te trek met die geboorte van hul dogter, Faith Hill, wat veroorsaak het dat hulle ‘n groter plek moes kry. Toevallig het ‘n vriend van hulle die huis in Sonneveld gehad wat hy wou verkoop, en soos Leigh-Anne dit beskryf: “Toe ek inloop, het dit soos my huis gevoel.”

Haar uitgewersmaatskappy, wat sy in 2022 gestig het, is LBHAC, wat staan vir Leigh-Anne Bowley (haar nooiensvan) Hill And Children.

Sy het begin met vyf van haar eie boeke – haar outobiografie, ’n profetiese boek, ’n huweliksboek en twee kinderboeke – en het vinnig uitgebrei om ook ander se boeke uit te gee.

Haar eerste boek, What is your driving force? You cannot be driven by fear, en die tweede, Say it and it shall be, het die bal aan die rol gesit. Sy het later haar Wes-Kaapse herkoms gevier met haar derde boek, Slaptjips en snoek: ‘n Gesonde huwelik en sekslewe, dis mos lekker ja!.


LEES OOK: Beyond stress: Understanding and preventing burnout before It breaks you


Sy het al meer as 30 boeke uitgegee en doen ook administratiewe werk vir maatskappye, soos om hul webtuistes te bestuur en kontrakte oor te tik. Vir haar is die lekkerste deel van haar werk om met kliënte te werk en hulle persoonlik te leer ken. Die moeilikste deel, aan die ander kant, is hoe tegnologies gefokus die publiseringswêreld geraak het.

“Ons kompeteer met ’n wêreld wat baie tegnologies gesentreer is. Mense wil alles deesdae op hul fone doen. Hulle gebruik hul foon-kalender eerder as ’n dagboek,” verduidelik Leigh-Anne.

Die geheim tot ’n goeie kinderboek is volgens haar eenvoudig.

“Bied iets visueel interessant aan, wat kleurvol is, met baie prentjies wat die kind se aandag hou en bly fascineer. Kinders wil baie prentjies en kleur hê. Hulle leer ’n liefde vir lees aan met prentjieboeke en eenvoudige woorde.”

Van die lokvalle waarin skrywers kan trap wanneer hulle aan ’n boek werk, sluit in wanneer skrywers nie weet waar om te begin of waaroor om te skryf nie, wanneer ’n boek voltooi word maar nie goed geskryf of markverwant is nie, wanneer skrywers hul storie of konteks verloor of die teks nie met die leser “praat” nie, wanneer hulle “writer’s block” kry en nie weet hoe om voort te gaan nie, of wanneer hulle leiding benodig met hul taalgebruik of skryfstyl.

Kanker lê Leigh-Anne baie na aan die hart en sy werk gereeld met organisasies wat kanker-navorsing doen of ondersteuning aan pasiënte bied. Haar familie is haar alles. Sy en haar man, John, vier op 29 Julie hul 15de huweliksherdenking.

Haar seun Joshua is 12 en haar dogter Faith is twee jaar oud. Haar kinders lê haar die naaste aan die hart en elkeen het ’n spesiale geboortestorie en getuienis. Faith was by geboorte vir nege minute en veertig sekondes klinies dood, maar is suksesvol geresussiteer.


LEES OOK: Ekurhuleni East Darts Association launches new venue with action-packed tournament


In hul kerk staan sy bekend as “Baba Lasarus” en is sy vernoem na een van Leigh-Anne se pastore, Joy, asook haar geestelike moeder.

Joshua is hul “gentle giant” en was die inspirasie vir die strokiesprente in haar twee kinderboeke wat Leigh-Anne begin beplan het toe hy ses jaar oud was. Die boeke handel oor verskeie kinderstories soos die geskiedenis van die Paashaas, Tandemuis, Tandefee, Kersvader en meer.

Brakpan ervaar sy en haar gesin as aangenaam en sy beskryf dit as ’n rustige dorp met vriendelike mense en oulike geriewe. Sy geniet dit om by Mall@Carnival te kuier en was al by Carnival City, maar het nog nie die middedorp besoek nie.

“Ek is ’n huismens, so ek bestel redelik gereeld by Checkers 60/60,” vertel sy.

Ten spyte van die trek is hulle steeds goeie vriende met hul vorige bure. Hoewel hulle lekker gebly het, het die lewe hulle na Brakpan geneem toe hul huurkontrak verstryk het en die huis in Sonneveld aan hulle beskikbaar geraak het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button