Anker leerder die begunstigde vir Jump for Paul fondsinsameling
Intussen hou Paul moed met die steun van sy gesin, vriende, skool en gemeenskap en Saterdag word ’n spesiale Jump-a-Thon aangebied om sy pad na herstel te help dra.
Paul Schutte (19), ’n Graad 11 leerder van Hoërskool Die Anker en inwoner van Brenthurst, is sedert 30 Augustus tuis nadat hy 68 dae in die hospitaal deurgebring het.
Hy herstel tans in voorbereiding van ’n groot operasie wat hy vroeg in Januarie 2026 sal ondergaan. Paul se lewe is omvergegooi toe sy blindederm in Junie gebars het, waarna verskeie komplikasies ingetree het.
Ongelukkig is die einde nog nie heeltemal in sig nie aangesien Paul nog ’n stomiesak en ’n negatiewe-druk-wondterapie-masjien moet saam sleep nadat die noodoperasie wat hy ondergaan het nie volgens plan verloop het nie.
Die nodigheid vir die wondmasjien, wat ’n vakuum gebruik om vog voortdurend uit ’n wond te suig deur middel van ’n spons, is omdat Paul se nierpypie afgesny is en vloeistof in sy abdominale area inlek.
Die groot operasie in Januarie is juis om hierdie nierpypie weer te heg sodat sy nier en urinedreinering weer normaal kan funksioneer.

Daarna sal die stomasak en wondterapie-masjien verwyder word, en kan Paul die lang pad na volkome herstel aandurf. Tans doen hy fisiese terapie en probeer hy soveel moontlik aan die beweeg bly.
Hy het selfs al saam met sy suster, Domonique Schutte (21), gaan inkopies doen, ’n uitstappie wat hy geniet het, maar wat hom uitgeput gelaat het.
Hy bly positief met die ondersteuning van sy gesin. Hulle is Domonique, sy ma en pa, Ansie (52) en Christo (47) Schutte, en sy ander suster wat in Jeffreysbaai woon, Monique Oosthuizen (27), wat hom elke dag bel.
Hy word ook ondersteun deur ’n psigiater, sy skoolvriende en die skool self, asook ’n wondsuster by ’n wondkliniek wat hy elke Maandag moet sien om die groot wond op sy maag skoon te maak.
Hy kan nie gaskoeldrank of melk drink nie en moet sy lus demp met gegeurde water, maar hy is bly om by die huis te wees veral, sê hy, omdat hy weer sy ma se kos kan eet.
LEES OOK: Brakpan Pool reopens, but 26 Ekurhuleni pools remain shut
“Hy doen baie goed en bly positief, en sy eetlus is ook darem terug. Mense het baie gehelp met stomasakkies en salf wat ons dan nie hoef te koop nie,” het sy ma vertel.
Sy vertel dat Paul omtrent 27kg verloor het gedurende sy verblyf in die hospitaal en dat deel van sy herstelproses voor die groot operasie is om gewig op te tel sodat sy liggaam genoeg energie het om die prosedure goed te kan hanteer.
Paul vertel dat die eerste ding wat hy gaan doen, wanneer sy gesondheid dit toelaat, is om by sy suster in Jeffreysbaai te gaan kuier.
Sy ma gaan ook vandag (Vrydag) die skool sien om sy agterstallige skoolwerk te kry sodat hy op datum kan kom. Hulle hoop om hom volgende kwartaal weer skool toe te kan neem, maar hy sal nog nie trappe kan klim tot ná sy operasie nie.
Iemand was ook gaaf genoeg om vir Paul ’n rolstoel te leen, wat hy kan gebruik om rond te beweeg wanneer hy te moeg of baie seer is.

Van die skool verlang Paul die meeste na sy vriende, en dit is waarna hy die meeste uitsien, om hulle weer elke dag te sien.
Om fondse in te samel vir sy voortdurende mediese en opkomende operasie het Jump-Aholics Dalview en A&C Rossouw Prokureurs ’n Jump for Paul Jump-a-Thon gereël wat môre (Saterdag) by Hoërskool Die Anker plaasvind.
Die twee vroue aan die stuur is Maruske du Preez (Jump-Aholics Dalview) en Carmen Rossouw (A&C Rossouw Prokureurs), wat genader is deur vriende van Paul se pa, Christo Schutte, en Die Anker se eerstespan rugbyafrigter.
’n Kaartjie om in een van die sessies te spring kos R100, en daar is sessies elke uur van 08:00 tot 12:00. Om jou plek te bespreek kan Maruske gekontak word by 078 577 3118. Daar sal ook stalletjies wees, met die huurfooi van elke stalletjie wat tot die fondsinsameling bydra. Jonger besoekers kan op springkastele baljaar.
Sy pa, Christo, vlieg van die Kaap af om hier te wees vir die Jump-a-Thon, waar spelers van Die Anker se rugbyspanne en selfs onderwysers hul bes gaan probeer om by te hou op die trampoliens, alles vir ’n goeie doel. Die publiek is ook welkom om die geleentheid te ondersteun.
LEES OOK: Resident demands answers after Ekurhuleni water billing nightmare



