KYK: Jump for Paul fondsinsameling is ‘n groot sukses
Die skool se eerste sportspanne en onderwysers was deel van die groepe wat gespring het.
Die 19-jarige Paul Schutte, wie se lewe in Junie dramaties verander het toe sy blindederm gebars en komplikasies ingetree het, het Saterdag in sy rolstoel gesit en met dankbaarheid toegekyk hoe sy spanmaats, onderwysers en selfs sy pa hul kragte inspan tydens die Jump for Paul-fondsinsameling by Hoërskool Die Anker.
Paul se lewe is omvergegooi toe sy blindederm in Junie gebars het. Hy herstel tans in voorbereiding op ’n groot operasie wat hy vroeg in Januarie 2026 sal ondergaan. Fondse word ingesamel om sy mediese onkostes te dek.
Spanlede van die skool se eerste spanne asook onderwysers en ander belangstellendes het hul fiksheid op die proef gestel en behoorlik gesweet vir hierdie goeie doel.
Die Jump-a-thon, aangebied deur Jump-Aholics Dalview en A&C Rossouw, was ’n marathon van rebounding-klasse, waar ‘n mens vir ’n uur lank kardio-oefeninge op ’n klein trampolien doen.
Daar was Saterdag ’n reeks agtereenvolgende sessies, waar die inskrywingsfooie per sessie aangewend is vir Paul se mediese sorg en herstelproses.
Sommige van Paul se spanmaats en vriende het selfs meer as een sessie gespring, terwyl lede van die publiek ook hul bydraes gemaak het.
Die hoogtepunt van die dag was toe Paul se pa, Christo Schutte (47), by die sportspanne en onderwysers aangesluit het vir die laaste sessie van die dag.
“Gewoonlik lag ek as Paul met oefeninge sukkel, nou gaan hy die kans kry om vir my te lag,” het Christo vertel voordat hy sy sessie aangedurf het.
ALSO READ: Cansa sparks honest conversations this World Lymphoma Awareness Day
Christo het ook Paul se spanmaats geterg, wat effens gesukkel het met die strawwe kardio.
“Die fikste een sit eintlik hier in die rolstoel,” het hy tong-in-die-kies gesê.
Paul, wat nie ’n man van vele woorde is nie, was baie dankbaar vir almal wat opgedaag het. Daar was selfs ’n span van vier kleuters van die Lag en Leer Kleuterskool wat, met hul blou hare en Jump 4 Paul-hemde, nie teruggehou het om die springers geesdriftig aan te moedig nie.
Met die fondsinsameling agter die rug, is Paul op pad na sy volgende operasie in Januarie, waarna hy kan begin om volkome te herstel.








