KYK: Inwoners van Tweedy Park bekommerd oor misdaad in kompleks
Daar is die afgelope tyd verskeie insidente aangemeld.
Inwoners van die Tweedy Park-kompleks leef die afgelope tyd in angs nadat misdadigers herhaaldelik toegeslaan het.
Die weerlose bejaardes se veiligheid en gemoedsrus word op die spits gedryf deur kriminele elemmente wat enigiets gesteel het, van motorwiele en wasgoed tot selfs die volledige inhoud van ’n inwoner se motorhuis.
Die bejaarde inwoners, almal op pensioen en kwesbaar weens hul ouderdom, is verstaanbaar skrikkerig om self gedurende die nag die gronde van die kompleks te patrolleer.
Daar bestaan ’n groot behoefte aan behoorlike sekuriteit. Krishen Singh, een van die inwoners van die wooneenhede, se motorhuis is onlangs leeg gesteel.

“Hulle het al my kraggereedskap gesteel en my voertuig is ’n gemors. Hulle het op die kar geklim om by al die toerusting en gereedskap uit te kom en vreeslike krapmerke gelos,” sê hy.
Verskeie maatskappye het al aangebied om sekuriteit vir die inwoners te borg, maar dit word glo afgekeur deur die Stad van Ekurhuleni, aan wie die perseel behoort. T
og verskaf Ekurhuleni nie self sekuriteit nie, en daar word boonop min of geen instandhouding gedoen nie.
Verskeie inwoners van die huisies het probleme met geysers en buiteligte wat nie werk nie, en enige versoek vir herstelwerk word volgens inwoners beantwoord met “doen dit self”.
Aangesien baie inwoners net van ’n SASSA-pensioen leef, is die koste van herstelwerk, wat volgens hulle die munisipaliteit se verantwoordelikheid behoort te wees, nie uitvoerbaar nie.
VF+-raadslid Riaan van Zyl sê: “Dis hartverskeurend dat daar steeds geen begroting is van Ekurhuleni om behoorlike sekuriteit te verseker vir die bejaarde inwoners van Tweedy Park nie. Hierdie is van ons mees kwesbare gemeenskapslede, en hulle verdien dit om veilig te voel in hul eie huise.
“Ek en die gemeenskap het begin saamwerk, in samewerking met plaaslike sekuriteit en selfs van die inwoners self, om die area te patrolleer en beskerm.
“Ons het ook dringend meer beligting nodig vir die woonstelle en huisies, aangesien iets so eenvoudig soos behoorlike beligting ’n groot uitwerking kan hê op die aantal inbrake en die veiligheid van ons mense,” het hy gesê.
LEES OOK: Allegations taken seriously, says city in response to billing outcry
“Ek doen ’n beroep op patrolleerders en die gemeenskap om saam te staan en te help om ons bejaardes te beskerm. Selfs al kan mense net ’n uur of twee in die nag patrolleer, sal dit ’n groot verskil maak.”
Petro Brits, een van die inwoners, vertel dat daar wel mense is wat probeer om te patrolleer.
“Wanneer jy wakker word in die nag en voel jy wil ’n entjie gaan stap, dan doen jy dit. Ek dink die beweging skrik moontlik die skelms af,” het sy gesê.
Navrae oor die tekort aan sekuriteit en onderhoud van die perseel is aan Ekurhuleni gerig, maar teen druktyd is daar nog geen kommentaar ontvang nie.




