Sonneveld Akademie Graad RR leerder ryg toekennings in
Van atletiek en gimnastiek tot ballet en drama, hierdie veelvoudige talent versamel toekennings op verskeie terreine en skitter in elke uitdaging wat sy aanpak.
Cara Coetzee (5), ’n Graad RR-leerder van Sonneveld Akademie, is reeds besig om op haar jong ouderdom ’n indrukwekkende versameling toekennings bymekaar te maak.
Sy blink uit in atletiek, ballet, gimnastiek en drama. Gedurende die atletiekseisoen aan die begin van die jaar het sy by ’n Sonneveld Akademie-byeenkoms op 8 Februarie drie eerste plekke, twee tweede plekke en ’n derde plek ontvang, en sy het ook twee rekords verbeter.
By die amptelike Sonnies-atletiekbyeenkoms op 15 Februarie het sy twee eerste plekke en drie tweede plekke verower.

In ballet het sy by die Cecchetti Ballet-eksamen ’n onderskeiding gekry. By die East Rand Dance Festival (ERDF) het sy vir die groepsdans A+ (hulle was ook kategorie-wenners) en vir die solodans ’n A ontvang.
Sy het ook die Association of International Dance Teachers (AIDT) medaljetoets suksesvol voltooi.
In gimnastiek skroom sy ook nie, en het sy by die SAA Cup ’n sesde, negende en derde plek behaal. By die Eagles Cup het sy sewende, 10de en vyfde geëindig, by die Twisters Cup sewende, negende en agtste, en by die Ekurhuleni Games het sy sesde, tweede en derde gekom.

Die tweede en derde plek by die Ekurhuleni Games was vir trampnastic en benchnastic onderskeidelik, en met dié plekke het sy provinsiale kleure ontvang en gekwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deel te neem. Hier het sy vir albei items ’n vyfde plek behaal.
Op die kultuurgebied werk sy net so hard en het sy by die Dell’ Arte Kunstefees aan voorgeskrewe poësie en prescribed poetry deelgeneem.
Sy is deel van die B-Dramatic dramaskool, waar sy haar vermoë opskerp. Met ballet is sy deel van die Dance Core-dansskool, en met gimnastiek die Boksburg Gym and Tumbling-gimnasium.



