Clean Brakpan spring in om Tweedy Park-bejaardes te help ná maand lange pleidooie
Die Clean Brakpan span het ingegryp na byna 'n maand se soebat van Tweedy Park se inwoners.
Die Clean Brakpan-span het op 8 Januarie aan die werk gespring en die gras by die Tweedy Park-kompleks se woonstelblok gesny, nadat inwoners se pleidooi oor die lang gras vir byna ’n maand op dowe ore geval het.
VF+ PR raadslid Riaan van Zyl, in sy hoedanigheid as ‘n lid van Clean Brakpan, het genoem dat vele mense op sosiale media kommentaar gelewer het oor die feit dat niemand die bejaarde inwoners wou help nie en niemand het ‘n poging aangewend om iets te reël nie.
“Sommige mense is vinnig om te sê dat dit ‘n skande is, maar is enige van hulle vandag hier?” het hy bygevoeg.
Op die stadium is daar ‘n paar van die inwoners van die woonstelle wat bereid is om self die gras te sny en hulle deel van die perseel te onderhou, maar hulle benodig ‘n skenking van ‘n grassnyer en ‘n boskapper om die instandhouding te kan doen.



