KYK: So steel diewe jou hekmotor binne sekondes
Die diewe het in minder as ‘n minuut die hek van die spoor gelig en die hekmotor gesteel.
Dit het die vier insittendes van ‘n wit BMW net 55 sekondes geneem om Maandag in die vroeë oggendure ‘n hekmotor in Norfolkstraat te steel.
Die hekmotor was boonop toegerus met ‘n anti-diefstalklamp, maar dit het nie die booswigte daarvan weerhou om die misdaad te pleeg nie.
Chantel Hearn (40) vertel dat sy en haar gesin ongeveer 01:36 wakker geword het van hul honde se geblaf.
“Ons het op die sekuriteitskamera gaan kyk en was net betyds om te sien hoe ‘n man met ‘n rooi `hoody’ by ons hek uitglip.”
Chantel vertel dat hulle toe teruggekyk het op die sekuriteitskamera, net om te sien hoe hulle hekmotor binne ‘n paar sekondes gesteel word.
Vandat die wit BMW met vier insittendes voor die erf stilgehou het, het dit slegs 55 sekondes geneem om die misdaad te pleeg.
Om die hekmotor self los te kry en weg te dra, het skaars 10 sekondes geneem.
In die opname van die sekuriteitskamera kan daar duidelik gesien word hoe ‘n wit BMW in die straat reg voor die woning stil hou.
Twee mans, wat agter sit, klim uit en lig gou die hek van die spoor af.
Daarna gebruik hulle ‘n koevoet om die hekmotor los te kry voordat hulle daarmee op die vlug slaan.
“Dit is verbasend hoe vining hulle dit kon regkry,” het Chantel gesê.
Die voorval is by die SAPD aangemeld.
Hoe om diefstal van jou hekmotor te voorkom:
• Installeer ‘n stewige hekmotorkas (verkieslik staal) wat vasgebout is aan beton of gebruik ‘n anti-diefstal- klamp wat spesifiek vir hekmotors ontwerp is.
• Dit is ook raadsaam om ’n steunarm aan die bokant van die hek aan te bring. Diewe lig maklik ’n hek van die spoor af en dié voorsorgmaatreël kan dit voorkom.
• Sluit ook die hek saans met ‘n ekstra slot indien dit moonlik is.
• Grafeer jou identiteitsnommer op die hekmotor.
• Versteek die motor sover moontlik sodat dit nie maklik sigbaar of bereikbaar is nie.
• Koppel die hekmotor aan jou alarmstelsel of gewapende reaksie waar moontlik.
• Installeer helder buiteligte of sensorligte naby die hek.



