Local newsNews

Vrouedominee word bevestig by 80 jaar oue NG Kerk Brakpan-Oos

Die Leraar is bevestig in die kerk deur 'n groep plaaslike Leraars tydens 'n kerkdiens.

Ds Carina Burger, ’n inwoner van Petersfield-uitbreiding in Springs, het onlangs die pos as permanente leraar van die NG Kerk Brakpan-Oos aanvaar.

Sy is op 17 Januarie bevestig onder leiding van die bestuurder van die Hoëveld Sinode, ds Hannes Windell, en is die eerste vrouedominee van die gemeente.

Haar aanstelling kom nadat die kerk verlede jaar sy 80ste bestaansjaar gevier het.

Dominees Nico Grobbelaar van NG Brakpan Moedergemeente, Hennie Pienaar van Dalpark Kaleo, Henri Horn (emerituspredikant) en Jannie du Plessis (emerituspredikant) was deel van die groep wat die handoplegging behartig het.

“Ons gemeente het verlede jaar in September ’n 80-jaar-viering gehad,” het die kerk se sekretaresse, Hester Bosch, gesê.

“Ons het ’n groot geleentheid gehad met ’n vasvra oor die gemeente se geskiedenis wat baie insiggewend vir lidmate was,” het Bosch verduidelik.

“Die gemeente is in 1945 gestig nadat dit van die Moedergemeente Brakpan afgestig het, en ds Van Niekerk was die eerste predikant.

“Die kerk is gebou, soos die tannies dit genoem het, met pannekoekgeld. Die orrel, ’n John Compton-pyporrel, is vir 2 750 pond (R5 500) bestel.

“Ons vorige predikant, dr Fanie Rudolph, het op 31 Desember 2025 afgetree,” het Bosch verder gesê.

Burger tree dus in op ’n goeie tydperk in die kerk se geskiedenis, met opgewondenheid en vreugde.

“Die vooruitkyk vir my tyd saam met die gemeente lyk baie lekker. Dit is ’n uitdaging, maar dit voel beslis of ek hier gevestig kan raak,” het sy gesê.

Burger het oorspronklik omgewingswetenskappe studeer, waarin sy ’n meestersgraad het, voordat sy teologie aan die Hugenote Kollege in Wellington studeer het.

“Dit is amper asof ek eers met die skepping gewerk het en nou met die mense,” het sy grappenderwys gesê.

Sy het aanvanklik as proponent by verskeie kerke gepreek, meestal in Springs wanneer voltydse dominees afwesig was, maar is deur Bosch raakgesien.

“Dit was letterlik ’n geval van ‘God works in mysterious ways’,” het sy gesê.

Haar doelwitte vir die jaar is om gevestig te raak, die mense van die gemeente te leer ken en aan die kultuur gewoond te raak.

“Ek wil saam met die mense groei,” het sy gesê.

Sy wil nie veel verander nie, aangesien mense gewoond is aan die huidige struktuur, en wil eerder voortbou op wat reeds daar is.

Persoonlik is sy besig met ’n beradingskursus en wil sy fokus op haar geestelike groei om te probeer ontdek wat die Here se visie vir haar en die gemeente is.

“Ons moet gehoorsaam wees aan Jesus se stem; vir die res sal Hy sorg.

Die kerk het steeds ’n plek en ’n doel in die samelewing, en in ons kerk is almal welkom,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button