Tutela Gesinsorg bied unieke geleenheid vir kunstenaars aan
Sluit aan by die kunsveiling 'Lig vir my Huis' van Tutela Gesinsorg Brakpan en wees deel van ’n projek wat kreatiwiteit en hoop in die gemeenskap bevorder.
Tutela Gesinsorg Brakpan bied in April ’n kunsveiling met die naam Lig vir my Huis aan om plaaslike kunstenaars van enige vlak van vaardigheid en ondervinding die geleentheid te gee om hul kuns aan die publiek bloot te stel.
“Laat jou kreatiwiteit skyn. Ons nooi oud en jonk om saam pret te hê,” het Adél Mostert, ’n projekbestuurder vir die kantoor gesê.
“Of jy nou ’n meesterkunstenaar is, graag wil teken, net ’n stokmannetjie regkry, of dink jy kan glad nie teken nie, hierdie is vir jou. Word deel van ’n betekenisvolle kunsprojek waar elke kwashaal hoop bring.”
Die inskrywingstydperk is tussen 1 Februarie en 30 April, en die fooi is R50 per deelnemer, wat papier en drie kleure verf insluit. In die uitdaging mag kunstenaars slegs die drie kleure gebruik.
Daar is kategorieë vir drie tot vier jaar, vyf tot ses jaar, sewe tot agt jaar, nege tot 10 jaar, 11 tot 12 jaar, 13 tot 14 jaar, 15 tot 16 jaar, 17 tot 18 jaar, 19 tot 35 jaar, 36 tot 49 jaar, en 50 jaar en ouer.
Die kunstenaars moet die drie kleure gebruik om die tema ‘Lig vir my Huis’ uit te beeld.
LEES OOK: Blaze destroys local motoring enthusiast’s pride and joy
Elke kunswerk sal uitgestal word om aan ’n “silent auction” deel te neem, waaruit al die fondse na Tutela Gesinsorg Brakpan gaan.
“Alle kunswerke moet ons bereik teen 30 April om 12:00, en geen laat inskrywings sal aanvaar word nie,” sê Adél.
Alle kunswerke sal op Tutela se Facebookblad geplaas word, waar die publiek kan stem vir hul gunsteling kunswerke en ook ’n bod kan plaas. Dit sal van 4 Mei tot 31 Mei plaasvind.
Die top vyf kunswerke in elke kategorie sal by ’n spesiale uitstalling op 27 Junie uitgestal word. Daar sal op die dag ’n gala-aand wees, en Tutela benodig gasvroue vir die aand.
Tydens die uitstalling kan mense ook in persoon stem, en slegs stemme wat in persoon gemaak is, sal in ag geneem word vir die finale telling. In-persoon stemme vind die dag van 16:00 tot 18:00 plaas, en die wenners word om 19:00 aangekondig.
Vir meer inligting, kontak Adél Mostert by 061 190 1370.
LEES OOK: City tightens security at Weltevreden landfill as site reopens



