Nóg eer vir Laerskool Dalview ná akademiese sukses
Die skool word weer bekroon vir sy bydrae tot toppresteerders en ’n sterk akademiese grondslag.
Die Laerskool Dalview en sy bestuur het skaars tyd gehad om hul trots oor onlangse erkennings van die onderwysdistrik te vier, toe die skool weer ’n uitnodiging ontvang na nóg ’n erekennisgeleentheid.
Die skool het onlangs erkenning ontvang vir uitnemendheid op atletiekgebied as die beste atletiekskool in die distrik, asook vir uitnemendheid in die vakgebied tegnologie, met ’n 100% slaagsyfer in die 2025 akademiese jaar.
Nou volg daar nóg ’n besondere mylpaal met ‘n bykomende toekenning vir akademiese uitnemendheid. Die skool is spesifiek vereer vir sy rol as voedingskool wat leerders opgelewer het tydens die 2025 matriekklas wat as toppresteerders in matriek in die distrik aangewys is.
“Hierdie erkenning bevestig die sterk akademiese grondslag wat reeds in die laerskoolfase gelê word,” het die skool se woordvoerder, Anelene Cilliers gesê.
“Die erkenning deur die onderwysdistrik is vir Laerskool Dalview is ’n besondere eer en voorreg en dien as ’n lewende bewys van die skool se leuse: ‘Ons strewe’,” het die skoolhoof, Chris Pretorius gesê.
“Ons skool spreek ook graag sy opregte dank uit teenoor die hoërskole wat ons oud-Dalwers ontvang en verder bou op die akademiese ingesteldheid wat reeds hier by Dalview gevestig word,” sluit hy mee af.



