Local newsNews

Voortrekkersaal bied Nasionale Volkspelesaamtrek aan

Die byeenkoms was 'n geleentheid van kultuur, gemeenskap en vreugde vir oud en jonk.

Die Afrikaanse Volksang- en Volkspele Beweging (AVVB) het 28 Maart sy Nasionale Volkspelesaamtrek in die Voortrekkersaal by die ikoniese Voortrekkermonument aangebied.

Deelnemers van reg oor die land, selfs van so ver as die Kaap, het saamgetrek vir ’n dag van tradisie, samesyn en die viering van ’n unieke Afrikanerkultuurerfenis.

Volkspele, wat diep in die Afrikanergeskiedenis gewortel is, is veel meer as net beweging op musiek. Volgens die AVVB is dit nie ’n dans nie, maar ’n spel, ’n aktiwiteit wat mense van alle ouderdomme insluit, van jong kinders tot oumas en oupas.

Hierdie inklusiewe aard maak dit ’n besondere gesinsaktiwiteit wat generasies bymekaar bring en ’n sterk gevoel van “behoort” skep.

Bertie Brink, voorsitter van die AVVB, verduidelik dat Volkspele nie net fisieke aktiwiteit behels nie, maar ook die vreugde van saamsing en saamwees.

“Dit is goeie oefening, maar die lekkerste deel is dat ons saamsing en deel is van iets groter,” het hy gesê.

Hy wys ook op die historiese oorsprong van die naam: “Oorspronklik is dit ’n spele genoem, want as dit destyds as danse beskryf is, sou die kerk dit nie aanvaar het nie, aangesien dans as sonde beskou is.”

Die nasionale saamtrek is ’n hoogtepunt op die Volkspelekalender. Dit bied aan lede van verskillende “laers” (plaaslike groepe reg oor die land) die geleentheid om mekaar weer te sien, nuwe vriendskappe te bou en bestaande bande te versterk.

Die atmosfeer tydens die geleentheid was een van opgewondenheid en samehorigheid, waar deelnemers met trots hul kultuur uitgeleef het.

Bekende volksliedjies soos Sarie Marais, Jan Pierewie en Bobbejaan klim die berg het deur die saal weerklink, terwyl deelnemers die speletjies met oorgawe uitgevoer het.

Hierdie liedjies en bewegings vorm deel van ’n ryk tradisie wat reeds langer as ’n eeu voortleef. Volkspele het immers in 2014 sy honderdjarige mylpaal bereik.

Volgens prof Anton van Vollenhoven, ondervoorsitter van die AVVB, is dit bemoedigend om te sien hoe mense steeds bereid is om tyd en hulpbronne in die behoud van hul kultuur te belê.

“Dit is wonderlik dat mense van reg oor die land saamtrek en soveel opoffer om hierdie tradisie lewendig te hou, veral te midde van toenemende kostes,” sê hy.

Hy beklemtoon ook die organisasie se fokus op jeugontwikkeling. Pogings word aangewend om deelname bekostigbaar te hou, onder meer deur ondersteuning vanuit die Pellissier-fonds, vernoem na dr SH Pellissier, die grondlegger van Volkspele.

Hierdie inisiatiewe verseker dat jongmense die geleentheid kry om deel van die beweging te word en die kultuur verder uit te dra.

Die 2026-saamtrek was besonder betekenisvol aangesien dit die eerste nasionale byeenkoms sedert die wêreldwye Covid-19-pandemie was. Voorheen is sulke saamtrekke elke drie jaar gehou, maar die pandemie het ’n onderbreking veroorsaak.

Die herlewing van die geleentheid simboliseer daarom nie net die voortbestaan van Volkspele nie, maar ook die veerkragtigheid van die gemeenskap.

Nog ’n hoogtepunt van die dag was die bekendstelling van die nuwe hoofbeskermheer, dr. Danie Langner, wat in Augustus 2025 aangewys is.

Deelnemers het die geleentheid gehad om die besturende direkteur van die Kultuurtuiste persoonlik te ontmoet en sy betrokkenheid by die beweging te verwelkom.

Langner het die Volkspelers hartlik op die terrein verwelkom en in sy toespraak die betekenis van die woord, saamtrek, sterk uitgelig: “As mens kyk na ‘n Volkspele-saamtrek sien jy dat die individu in die agtergrond verdwyn en die groep na vore kom deur te begin saam speel en saam trek.

“By so ‘n saamtrek word nuwe herinneringe geskep en wanneer Afrikaners saamtrek kies ons om nie alleen te staan nie en kies ons iets wat aanhou beweeg en vorentoe gaan en om deel te wees van iets wat vir ons kosbaar is,” het hy gesê.

’n Verdere opwindende verwikkeling wat uit die saamtrek gespruit het, is dat ’n uitstalruimte aan die AVVB by die Voortrekkermonument beskikbaar gestel is. Die organisasie beoog om daar ’n versameling Volkspelebundels en tradisionele drag ten toon wil stel.

Hierdie inisiatief vorm deel van ’n groter visie om uiteindelik ’n toegewyde museum vir Volkspele te vestig, ’n plek waar die geskiedenis en ontwikkeling van hierdie kultuurvorm bewaar en gedeel kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Supplied content

This content originated outside of Caxton Local Media, but we thought that you might find it interesting.

Related Articles

Back to top button