Muriel Brand Skool verwelkom nuwe skoolhoof
Elmarie Rossouw se pad met die skool het reeds as dogter begin toe haar pa die hoof was.
Elmarie Rossouw, die nuut aangestelde hoof van Muriel Brand Skool, bring nie net jare se onderwyservaring na haar nuwe rol nie, maar ook ’n diepgewortelde verbintenis met die skool.
Met ’n sterk fokus op verhoudings, inklusiwiteit en spanwerk, is sy vasbeslote om ’n omgewing te skep waar beide personeel en leerders kan floreer.
“Ek het ’n visie waar sterk verhoudings die fondament vorm van alles wat ons doen. Wanneer ons mekaar kan respekteer, ondersteun en vertrou, skep ons ’n omgewing waar beide personeel en leerders werklik kan floreer,” het sy gesê.
Rossouw is op 16 Maart amptelik as hoof aangestel, maar haar reis met die skool het reeds as kind begin, toe haar pa, dr JA Rossouw, die hoof van die skool was.
“Ek het in 2009 reeds die voorreg gehad om by Muriel Brand Skool te begin skoolhou. Maar my verbintenis met die skool en sy leerders het al as ’n klein dogtertjie begin, met my pa wat ’n voormalige hoof van die skool was.
“Hy het my liefde vir ons kinders met gestremdhede gevestig en die saadjie geplant wat uiteindelik gelei het tot my besluit om buitengewone onderwys my fokus te maak.
“Dit is vir my ’n ongelooflike voorreg om in sy voetspore te kan volg en ’n verskil te kan maak in ons spesiale kinders se lewens.”
Om ’n inklusiewe en ondersteunende skoolkultuur te bou, moet die fokus volgens Rossouw op respek, samewerking en die erkenning en ondersteuning van elke leerder se unieke behoeftes wees.
“Dit is waaraan ons by Muriel Brand Skool elke dag baie hard werk,” verduidelik sy.
As leier fokus sy op die ontwikkeling van ’n gedeelde visie en die bou van ’n werksomgewing van wedersydse respek, vertroue en lojaliteit.
“Ek glo daarin om mense te ontwikkel en te bemagtig sodat elke personeellid kan inkoop en deel vorm van die uiteindelike sukses van ons skool en sy mense,” sê Rossouw.
Sy hoop ook om voort te bou op die skool se bestaande sukses.
“Ons skool is geseënd om die afgelope ses jaar met ’n 100% slaagsyfer in die matriekeksamen te kan spog,” sê sy.
“Ek sien my taak in hierdie verband as om in ’n ondersteunende en motiverende hoedanigheid leiding te verskaf en staat te maak op ’n ongelooflike span mense met kennis en vaardighede wat net kan voortbou op die suksesse van die verlede.”
Die skool is bevoorreg om met ’n multidissiplinêre span te werk, met kundiges op elke gebied.
“Van die onderwysers in die klas tot die terapeute, mediese personeel, sielkundige en maatskaplike werker, assistente in die klas en op die terrein, asook administratiewe-, koshuis- en kombuispersoneel, werk almal saam om in elke leerder se spesiale behoeftes te voorsien,” verduidelik Rossouw.
“Dit is absoluut ’n spanpoging, en die ‘reseppie’ vir elke kind is uniek en gefokus op elkeen se spesifieke behoeftes en vermoëns.”
Sy wil ook graag groter bewustheid in die gemeenskap skep vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.
“Min mense besef regtig watter uitdagings ons leerders moet oorkom om net op ’n gelyke voet met hul maats in hoofstroomskole te kan meeding. Maar hulle doen dit, en kan elke jaar met trots hul plek in die samelewing inneem,” sê sy.
Haar uiteindelike doel vir die skool is eenvoudig: om ’n skoolomgewing te skep waar personeel gewaardeerd en ondersteun voel, en waar leerders gelukkig en suksesvol kan wees, ten spyte van die reuse uitdagings wat hulle elke dag in die gesig staar.
LEES OOK: Entrepreneurs highlight benefits of exhibiting at Connection Hub Small Business Expo
Haar boodskap aan ouers, terapeute, onderwysers en leerders is: “As ek ’n span kon kies om hierdie reis mee te begin, sou ek niemand anders as julle gekies het nie.
Ons het kundiges in alle afdelings van die skool, en dit is die enigste rede waarom ek bereid is om hierdie taak aan te pak.
“Met ’n toegewyde personeelkorps en ouers wat ons vertrou om in die beste belang van hul kinders op te tree, kan hierdie skool voortgaan om ’n baken van hoop te wees vir elke kind wat aan ons toevertrou is.
“Vir die leerders: My deur staan altyd oop vir julle. My belofte aan julle is dat hierdie skool altyd ’n plek sal wees waar julle veilig kan voel, gerespekteer word en die ondersteuning kry wat julle nodig het.
“Ek sien uit daarna om saam met julle te werk, julle talente te ontdek en saam baie suksesse te vier. Onthou, jy is belangrik, en jy kan.”
Rossouw het in 1994 begin skoolhou by die huidige Springs TVET College, en na ses maande het sy aangesluit by Hoërskool Stoffberg, haar alma mater.
“Daar het ek alles geleer wat ek van onderwys weet, met mentors wat ’n groot impak op my lewe as onderwyser gehad het.”
Sy het in 2009 haar pad na Muriel Brand Skool gevind en dadelik geweet dat dit die plek is waar sy verder ’n verskil wou maak.
Sy het aan die destydse PU vir CHO (Pukke) studeer, waar sy haar B.Com-graad verwerf het, gevolg deur ’n Hoër Onderwysdiploma.
Sy het later ook haar honneursgraad in Onderwysbestuur en Onderwysreg aan die NWU behaal.



