Local newsNews

Ouma getraumatiseer ná gewapende rooftog by Hoërskool Die Anker

‘n Ouma is voor Hoërskool Die Anker met vuurwapens gedreig toe rowers helder oordag op haar toegeslaan het terwyl sy vir haar kleindogter gewag het.

‘n 65-Jarige ouma wat Vrydagmiddag voor Hoërskool Die Anker in Tweedyweg, Brenthurst vir haar kleindogter gewag het om uit te kom, is erg getraumatiseerd gelaat toe sy onkant betrap is deur twee rowers wat haar met handwapens gedreig het.

Was dit nie vir die heldhaftige optrede van ‘n ander vrou nie, was Alta Barnard dalk haar trouring, die enigste juweelstuk wat sy nog van haar oorlede man, Hannes, oor het kwyt.

Die voorval het net ná 12:10 plaasgevind toe Alta, oudergewoonte, vir haar kleindogter, Luané Cooper, ‘n graad Agt leerder, gewag het.

“Ek ry gewoonlik ‘n bietjie vroeër en dan sit ek maar rustig in die kar en wag,” het Alta vertel.

“Ek is altyd op my hoede en kyk maar rond, en normaalweg is die ruite van my voertuig opgedraai en die deure altyd gesluit.”

Vrydagmiddag het Alta ‘n sigaret aangesteek en haar motorruit afgedraai.


Alta Barnard het geskukkel om die ring van haar vinger af te kry en gelukkig het dit uit haar hand geval voordat sy dit aan die rower kon oorhandig. Foto: Thelma Koorts

“Die volgende oomblik het daar ‘n wit voertuig reg langs my stilgehou en ‘n groot, geboude man het uitgespring en so halflyf deur my motorruit geleun en ‘n vuurwapen teen my been gedruk.

“Hy het in Engels geëis dat hy my juwele soek. Ek het net die trouring van my oorlede man aan my vinger gehad en dit is kosbaar en sentimenteel vir my,” het sy vertel.

“Ek was heeltemal vreesbevange en het gesukkel om die ring van my vinger af te kry. Die man het ongeduldig geraak en die vuurwapen harder teen my been gedruk en weer gesê dat hy juwele soek.

“Intussen het daar nog ‘n man aan die passasierskant gekom en beveel dat ek die deure moet oopsluit,” het Alta gesê.

Volgens haar was dié man ook gewapen.

“In my paniek het ek die ring van my vinger afgekry, maar genadiglik het dit geval en onder die sitplek beland.”


ALSO READ: WATCH: East Rand Children’s Haven faces closure amid delayed government subsidy payments


Op dié stadium het nog ‘n vrou, wat waarskynlik opgemerk het wat aan die gang was, skuins voor die rowers se wit voertuig stilgehou en haar voertuig se toeter gedruk.

“Toe ek dit sien en hoor, het ek ook begin om my kar se toeter te druk. Ek glo dit het veroorsaak dat die mans geskrik het en hulle het terugbeweeg na hul wagtende voertuig,” het Alta gesê.

Daar was nog ‘n booswig in die voertuig, wat agter die stuurwiel vir sy makkers gewag het.

Volgens inligting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die mans weggejaag in die rigting van Thomasstraat en verskeie skote is gevuur nadat ‘n ander motoris gepoog het om hulle agterna te sit.

Die vlugtende rowers het beheer oor hul voertuig verloor op die hoek van Tweedyweg en Thomasstraat, waarna hulle deur die buitemuur van ‘n woning gebars het.


Alta Barnard op die plek voor Hoëskool Die Anker waar sy Vrydagmiddag die teiken van drie rowers was. Foto: Thelma Koorts

Die drie het te voet op die vlug geslaan en kon nie opgespoor word nie. Verskeie sekuriteitsmaatskappye was vinnig op die toneel en niemand is beseer nie.

“Ek is bitter dankbaar dat niemand seergekry het nie en dat ek darem my ring kon behou. Ek gaan haal my kleinkind by die skool sedert sy in Graad RR is en het nooit gedink dat so iets met my sou gebeur nie.

“Dit is vir my moeilik om rustig in die nag te slaap en ek kan ook nie help om onrustig te voel wanneer ek nou by die skool sit en wag nie,” het Alta gesê.

Die voorval word deur die SAPD ondersoek en volgens inligting is die voertuig wat deur die rowers gebruik is, ‘n wit Hyundai Creta, gesteel.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button