Vier jaar ná kappietop-ongeluk wat tot verwurging gelei het, duur trauma voort
Vier jaar nadat Marno by ’n kleuterskool in Dalview ernstig beseer is, vertel sy ma, Helga Muller, hoe die emosionele en fisiese nagevolge steeds deel van hul daaglikse lewe is.
Vier jaar nadat Helga Muller (43) daardie oproep gekry het dat haar kind by sy kleuterskool in Dalview seergekry het, spook die lewensveranderende gebeurtenis steeds elke dag by haar.
Dit het nie net ’n groot impak op haar as ma gehad nie, maar die emosionele en fisiese nagevolge is steeds ’n swaar las wat Marno en ook sy twee ouer broers, Zayden (11) en Wikus (24), dra.
Wikus het ten tye van die ongeluk in die buiteland gewerk.
Die Herald het destyds berig hoe Marno, wat toe vyf jaar oud was (hy is nou nege), by sy skool gewurg is toe die tou van sy kappietop aan ’n glyplank vasgehaak het. (Kleuter kritiek in hospitaal ná voorval by kleuterskool)
Hy is na die Life Dalview Hospitaal gehaas, waarna hy na die Netcare Garden City Hospitaal oorgeplaas is.
Die gesin, wat aanvanklik in Springs gewoon het, woon die afgelope paar jaar in Brakpan. Helga het vier jaar ná die voorval, wat op 26 Mei 2022 plaasgevind het, met die Herald gesels oor daardie dag wat haar lewe onherroeplik verander het.

Dit is duidelik dat sy die dag soos gister onthou en dat sy elke terugslag en elke ligstraaltjie, wat daar in die dae ná die ongeluk was, steeds kan herroep.
Marno het vir sy lewe geveg in die intensiewesorgeenheid, waar Helga soveel moontlik tyd by hom deurgebring het.
Sy het deeglik rekord gehou van die goeie dae en die slegte dae, al die prosedures, asook die opvolgafsprake, terapie en terugslae wat gevolg het, lank nadat Marno ontslaan is.
“Mense dink Marno is ‘fine’ en dat hy ‘survive’ het, maar dit is nie so nie. Ek is baie dankbaar dat die Here my geseën en hom vir my gespaar het, maar hy is nie so 100 persent soos almal dink nie,” het Helga aan die Herald gesê.
“My kind was 18 dae in die intensiewesorgeenheid, waar daar telkemale vir sy lewe gevrees is,” het sy vertel.
“Die dag toe ek op 20 Junie 2022 uiteindelik die oproep kry om my mee te deel dat die voedingspyp verwyder gaan word (dit was die laaste prosedure wat nog uitgevoer moes word) en dat hy na ’n gewone saal oorgeplaas gaan word, kon ek nie vinnig genoeg by die hospitaal uitkom nie.”
Helga se verligting en vreugde was nog groter toe Marno uiteindelik op 22 Junie uit die Garden City Hospitaal ontslaan is.
ALSO READ: Marno is by die huis!
“Ons was egter nie uit die storm wat om ons gewoed het nie, want die pad wat ons met dokters, spraak-, arbeid- en fisioterapeute, asook sielkundiges begin stap het, duur steeds voort,” vertel sy.
Hoewel Marno volgens haar goeie vordering gemaak het, het sy geen ander keuse gehad as om aan te hou sorg dat haar kind die mediese nasorg kry wat hy nodig het nie.
“As enkelouer het dit ’n groot finansiële impak, maar dit is ook emosioneel uitputtend. Ek sal egter altyd daar wees vir my kinders,” het sy gesê.
Marno is aanvanklik by ’n skool in Springs ingeskryf waar hy nie aangepas het nie. Hy is toe by die Muriel Brand School in Brakpan ingeskryf, waar dit volgens Helga goed gaan met hom.
“Hy geniet sy skool en sy vordering is vir my ’n groot ligpunt. Hy het verlede jaar ‘n boekprys gewen vir die leerder met die beste ‘word search’-vaardigheid,” vertel Helga trots.

“Hy kry steeds spraak- en arbeidsterapie by die skool en geniet die interaksie deur middel van ‘n terapie-hond ook vreeslik baie,” het Helga gesê.
“Hy is steeds op medikasie en kry ook sielkundige hulp. Marno geniet dit om te doen wat seuns van sy ouderdom doen, alhoewel hy steeds baie versigtig is vir speelapparaat wat van staal gemaak is.
“Dit is ook ’n baie groot stryd om sy hare te laat sny. Ek dink die geluid en vibrasie van die knipper laat hom terugdink aan die hospitaal.”
Volgens Helga het Marno ook steeds ’n groot vrees vir dokters, spreekkamers en hospitale. “Hy hou ook nie daarvan om baie medikasie bymekaar te sien nie,” het sy gesê.
“Tog is hy ’n maklike, liefdevolle kind wat graag leer. Maar ons sal altyd met die ongeluk saamleef. Dit het skade op soveel vlakke berokken, maar ons sal sterk staan en daar deur kom,” het sy gesê.

ALSO READ: Inwoners verlig ná herstel van Tweedy Park-kompleks se heining



