Baba se lewe word gevier met kleurvolle sokkies
In die kerk was daar ook 766 blommetjies, een vir elke dag wat Amelia op aarde was.
Rou hartseer maar ook die kleurvolle viering van ‘n dogtertjie se kort lewe was Vrydag op die voorgrond by die begrafnisdiens van Amelia Clark, wat op twee jaar oorlede is.
Amelia is op 1 Desember 2020 met Smith-Lemli Opitz sindroom gebore. Haar verhemelte was gesplete, haar tong en mangels vergroot en lugweg was vernou. Nogtans het hierdie klein vegtertjie vir twee jaar en ‘n paar dae geleef, voor sy op 7 Januarie oorlede is.
Die Herald het in Mei 2022 berig oor die klein wonderwerk. (Ouerpaar hou moed na seldsame sindroom diagnose).
Met haar geboorte is Amelia as gevolg van haar vernoude lugweg onmiddellik op suurstofmasjiene geplaas.
Op twee maande het sy ‘n operasie ontvang om ‘n tragea en voerbuis in te sit. Terwyl sy in die hospitaal was is daar ontdek dat sy gehoorverlies het. Sy het in April 2021 ook twee gehoorstukke ontvang.
Ten spyte van die kleintjie se lewensverwagting van agt maande het sy vir twee jaar aanhou veg en haar familie het dié wonderwerk Vrydag gevier deur kleurvolle kouse na haar begrafnis te dra.
“Ons herdenk haar lewe haar vandag, maar dit is rof,” het haar ma, Michelle Clark, vir die Herald gesê.
Vir die begrafnis moes almal ‘casual’ aantrek. Niemand mag swart gedra het nie omdat Michelle en Wiese Clark hul dogtertjie se lewe wou vier en nie wou treur nie.
Nogtans het die trane geloop onder vriende en familie wat almal aangeraak is deur die klein vegtertjie.
Haar boetie, Jordan (5), het met sy ma se hulp vir sy sussie ‘n briefie geskryf.
Dié lees, “Sussie my hartjie is seer. Ek verstaan nie wat gebeur nie. Jou stemmetjie is stil, jou laggie is weg. Ek is lief vir jou en ek verlang na jou.”
Die briefie was saam met ander familielede se briefies aan ‘Amie’ in die begrafnispamflet, wat vir familielede uitgedeel is.
As deel van die herdenkingstema het sommige begrafnisgangers hul hare of baarde pienk gekleur, familielede het borrels geblaas en Michelle en Wiese het helium ballonne laat gaan as ‘n finale totsiens.
Tydens die diens het oupa Morné Lane die aankondigings waargeneem en ouma Monique Spamers het Jesus loves me gesing.
In die kerk was daar ook 766 blommetjies, een vir elke dag wat Amelia op aarde was.
Vyftien van daardie maande het Wiese se werkgewers hom toegelaat om van die huis af te werk terwyl hy na Amelia gekyk het.
Familie en ‘n paar skenkers, wat anoniem wil bly, het gesorg dat die R28 000 per maand mediese koste gedek is.
‘n Sokkie-projek was ook geloods om addisionele fondse in te samel.
Marlene Vorster het die kouse aangekoop en dan weer verkoop om verdere mediese onkostes te help dek.
Haar oupa en ouma, Coenie en Monique Spamers, het ook kouse verkoop en ander besighede by die projek betrek om meer fondse in te samel.
“Amelia Clark sal vir altyd voort leef in haar familie se harte.Sonder enige woorde het sy jou geleer wat liefde is.
“Dié klein vegter sal nooit vergeet word nie,” het Lelanie Pieterse, Amelia se tannie gesê.







