Kameras bring nuwe gemoedsrus vir Tweedy Park-inwoners
Na herhaalde misdaadvoorvalle bring nuwe sekuriteitskameras ’n mate van rustigheid vir inwoners van Tweedy Park.
Sekuriteitskameras wat onlangs by die ingang van die Tweedy Park-kompleks geïnstalleer is, bied ’n verhoogde mate van veiligheid en gemoedsrus aan die bejaarde inwoners.
Die kamerasisteem is geskenk deur die eienaar van SecurElect, Danie van der Westhuizen.
Van der Westhuizen het ’n Facebook-plasing met ‘n versoek van een van die bekommerde inwoners, James van der Riet, gesien en dadelik daarop gereageer.
“Dit is belangrik dat daar na ons bejaarde mense omgesien word. Kriminele en oneerlike mense buit bejaardes maklik uit en hopelik sal die kamerasisteem dien as ’n doeltreffende voorkomende maatreël,” het van der Westhuizen gesê.
Van der Riet het vertel dat hy die plasing op Facebook gemaak het omdat hy, soos vele ander inwoners, baie bekommerd is oor misdaad in die kompleks.
“Daar is bande van voertuie afgesteel (die Herald het voorheen daaroor berig) en goed verdwyn net,” het van der Riet gesê.
“Daar was ook onlangs voorvalle waar mense bloot by die hek ingestap het om met slim praatjies toegang tot inwoners se wonings gekry het, waarna hulle besteel is.
“Sedert die kameras geïnstalleer is, is dit al asof daar ’n mate van rustigheid is. Dit gaan beslis nie die hele probleem oplos nie, maar dit is ’n stap in die regte rigting,” het van der Riet bygevoeg.
Ster Esterhuizen, voorsitter van die Tweedy Park-kompleks, het die skenking van die sekuriteitskameras verwelkom en sy dank teenoor SecurElect uitgespreek.
“Die kameras is duidelik sigbaar by die toegangshek en ek glo dit dien beslis as ’n afskrikmiddel vir mense met oneerlike bedoelings,” het Esterhuizen gesê.
“Daar kan ten minste nou nagegaan word wie die kompleks binnekom en weer verlaat.”
Die Herald het ook verlede jaar berig dat daar, weens die voortgesette inbrake en diefstal by die kompleks, ingryping deur ander rolspelers was.
Verskeie sekuriteitsmaatskappye het sonkragvloedligte rondom die perseel geskenk en geïnstalleer om die bejaarde inwoners te beskerm.
Ongelukkig het misdaad ná die installasie van hierdie ligte voortgeduur, met die ligte wat self ’n teiken geword het.
Om te verseker dat inwoners nie kwesbaar in die donker is nie, is bykomende ligte, wat aanvanklik deur sekuriteitsmaatskappye geskenk is, onlangs deur VF Plus-raadslid Riaan van Zyl en sy span uitgedeel.
Sestig ligte is aan inwoners van die huise uitgedeel om aan die voorkant van hul wonings gemonteer te word.



