Hoërskool Stoffberg spog met drie uitblinker matrieks
Twee van die drie het sewe onderskeidings, en die derde het ses.
Vir duisende matrikulante en hul gesinne was die lang gewag op 13 Januarie uiteindelik verby toe die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) matriekuitslae beskikbaar gemaak is.
By die Hoërskool Stoffberg het die opgewondenheid hoogty gevier, met drie leerders wat veral uitgestaan het
Twee van die drie het sewe onderskeidings elk ontvang, en die ander een spog met ses onderskeidings.
Die drie leerders het ook erkenning van die skool ontvang vir hul uitsonderlike uitslae.
Izel Adlam het met sewe onderskeidings en ‘n gemiddeld van 86.3% ‘n skootrekenaar ontvang.
Sy het haar onderskeidings verwerf in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde geletterdheid, lewensoriëntering, dramatiese kunste, toerismebedryf en visuele kuns.
Sy wil verder gaan studeer in die geesteswetenskappe, en wil graag fokus op Engelse literatuur.
In die tweede plek, met ‘n koopbewys as prys, is Sebastian Lubbe wat ‘n gemiddeld van 83.6% en sewe onderskeidings losgeskryf het.
Sy onderskeidings is in Afrikaans huistaal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, ingeneursgrafika en -ontwerp, fisiese wetenskappe en Alfa wiskunde.
Hy beoog om elektroniese ingeneurswese te studeer.
Dewald de Wet wil met sy 81% gemiddeld en ses onderskeiding, wat vir hom ‘n derde plek en ‘n koopbewys verseker het, BCom rekeningkunde gaan studeer.
Hy het sy onderskeidings ontvang in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering, rekeningkunde, besigheidsstudies en rekenaartoepassingstegnologie.





