Brakpan-bokser wen Gauteng-silwer ná taai finaal
Die bokser het te staan gekom teen 'n bokser bekend vir sy kragtige uitklophoue.
Brakpan Boksklub se Donewin Martens het oor ‘n tydperk van twee weke aan die Gauteng Bokskampioenskappe in Sedibeng deelgeneem, waar meer as 180 boksgevegte in verskillende afdelings plaasgevind het.
Die kampioenskap is gehou om die beste span boksers te kies wat Gauteng by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in die Kaap sal verteenwoordig.
Martens het in die finaal van die 75kg tot 80kg middelgewigafdeling te staan gekom teen Clayton Liebenberg van die Noorde, wat bekend is vir sy kragtige uitklophoue.
Na ‘n uiters harde en mededingende geveg van drie rondes van drie minute elk, het Martens die geveg met slegs twee punte verloor. Hy het egter met die silwermedalje en ‘n tweede plek in Gauteng in sy afdeling weggestap.
Brakpan Boksklub se hoofafrigter, Steve Labuschagne, is baie trots op Martens se vertoning en die harde werk wat hy insit om sy doelwitte te bereik.
Wimpie Labuschagne, wat ook as een van die Ekurhuleni-afrigters gekies is om die span in Sedibeng te verteenwoordig, het gesê hy kon nie vir ‘n beter vertoning gevra het nie.



