Local news

Aucamp gesin sien nege kinders deur Laerskool Brakpan-Oos oor 30 jaar

Chris en Helena Aucamp het nege kinders gehad wat oor 'n tydperk van 30 jaar almal Laerskool Brakpan-Oos skool gegaan het.

Terwyl die Laerskool Brakpan-Oos vanjaar sy 90ste bestaansjaar vier, staan een gesin se verhaal besonder uit: dié van die Aucamp-gesin.

“Min gesinne kan sê dat hulle oor bykans drie dekades deel van dieselfde skoolgemeenskap was, maar Chris en Helena Aucamp se nege kinders was almal trotse Oosies,” het Michelle Benade, woordvoerder van die skool gesê.

Vanaf 1961 tot 1991 het die Aucamp-kinders die gange, sportvelde, klaskamers en saal van Laerskool Brakpan-Oos gevul met talent, diensbaarheid, sportgees en mooi herinneringe.

Elkeen het sy of haar eie unieke storie, maar almal deel dieselfde liefde vir die skool wat hulle gevorm het.

Marie Jonker: 1961 tot 1968
As die oudste van die nege kinders, onthou Marie haar laerskooljare met groot trots.

Sy het die skool op die korfbalbaan verteenwoordig en selfs Oos Rand-korfbal gespeel terwyl sy in Graad Sewe was.

Sy was ook ‘n prefek, ‘n bewys van die leierseienskappe wat reeds vroeg sigbaar was.


Marie Jonker het van 1961 tot 1968 by Brakpan-Oos skoolgegaan. FOTO: Verskaf

Na haar laerskoolloopbaan het sy haar studies aan Hoërskool Stoffberg en later Hoër Handelskool voltooi.

Haar verbintenis met Brakpan-Oos het egter nie daar geëindig nie. Haar eie kinders, asook talle ander familielede, het later ook dieselfde skoolbanke warm gesit.

“My beste wense vir Brakpan-Oos vir nog 90 jaar. Ons is lief vir hierdie skool,” sê sy.

Pieter Aucamp: 1963 tot 1969
“Pieter se herinneringe neem ons terug na ‘n tyd van legendariese onderwysers en onvergeetlike skoolaktiwiteite,” sê Michelle.

Hy het aan volkspele, konserte en talle ander skoolaktiwiteite deelgeneem. Een van sy hoogtepunte was sy rol as Humpty Dello in die 1969-skoolkonsert onder leiding van Dirk Lindekamp.

Die produksie is nie net by die skool opgevoer nie, maar ook in die Brakpan Stadsaal en Heidelberg.


Pieter Aucamp: 1963 tot 1969. FOTO: Verskaf

Hoewel atletiek nie sy sterk punt was nie, was rugby en krieket sy groot liefde. Hy onthou met trots hoe die eerste rugbyspan in 1969 die streeksbeker gewen het.

Hy was ook vir twee agtereenvolgende jare ‘n prefek en sê met ‘n glimlag: “Met so baie hoogtepunte onthou ek nie een laagtepunt nie.

Kermisse, konserte, sportbyeenkomste, nuwe vriende en so nou en dan ‘n `girlfriend’ bring soveel herinneringe terug. Brakpan-Oos sal altyd deel wees van die Aucamp-familie.”

Frieda Aucamp: 1965 tot 1971
Frieda vertel hoe haar ouers, Chris en Lena Aucamp, vurige volkspelers was, en dat die liefde vir volkspele natuurlik na al nege kinders oorgespoel het.

Onder leiding van Juffrou Trinkie het die Aucamp-kinders talle trofeë by kunswedstryde gewen. Volkspele het ‘n groot deel van haar laerskooljare gevorm.


Frieda Aucamp: 1965 tot 1971. FOTO: Verskaf

Sy onthou ook verskeie mylpale by Brakpan-Oos:

  • Die opening van die eerste snoepie.
  • Die skool se eerste VW Kombi, liefdevol bekend as “Kampie.”
  • Hoe Simba die skool besoek het voordat NikNaks bekendgestel is, waar leerders onbekende happies moes proe en evalueer.
  • Die jaarlikse kermis waar Graad Sewe leerders pannekoeke verkoop het.
  • Korfbalbane van klei wat voor wedstryde natgespuit en met nette gelykgemaak is.

Een herinnering staan egter uit. In 1966, toe sy in Graad Twee was, het sy in Hilda Swart se klas gesit toe die aankondiging gemaak is dat dr. Hendrik Verwoerd vermoor is.

Na skool het Frieda haar studies aan Hoër Meisieskool Stoffberg voortgesit voordat sy onderwyseres geword het.

Josina Aucamp: 1972 tot 1978
Vir Josina bestaan haar laerskoolherinneringe uit niks anders as mooi oomblikke nie. Sy onthou haar streng Graad Een juffrou, asook Mnr.

Steyn, wat Wiskunde en Wetenskap aangebied het en daarop aangedring het dat elke leerder sy of haar tafels foutloos moes ken.


Josina Aucamp: 1972 tot 1978. FOTO: Verskaf

Touspring, korfbal, operettes, volkspele en koor vorm steeds deel van haar kosbaarste herinneringe.

Die familieband met Brakpan-Oos het voortgeleef toe haar dogter, Zelda Stoltz (gebore Smit), ook tussen 1995 en 1999 ‘n trotse Oosie was.

Chris Aucamp: 1976 tot 1982
Chris onthou die eenvoud en vreugde van sy kinderdae: tolgooi, albasters, atletiek, volkspele en kunswedstryde.

Hy vertel hoe die seuns tydens pouses mekaar voortdurend uitgedaag het met tolgooi en albasters, terwyl interhuisatletiek vir opgewondenheid tussen die Geel-, Rooi- en Groen-spanne gesorg het.

Die interlaerbyeenkomste by Bosmanstadion leef steeds in sy geheue voort, waar die skool met trots uitgeroep het: “Wakker! Wakker!” en “Hou bene hou!”


Chris Aucamp: 1976 tot 1982. FOTO: Verskaf

Hy onthou met waardering vir Trienkie Marren, ‘n onderwser wat die kinders volkspele en wals geleer het, asook Juffrou Marais, wat hulle voorberei het vir kunswedstryde.

Vir Chris was Brakpan-Oos die plek waar hy nie net akademies gegroei het nie, maar ook geleer het van geloof, respek en integriteit.

Helena Aucamp: 1977 tot 1983
Helena glimlag wanneer sy terugdink aan volkspelekompetisies in Springs se stadsaal, korfbal, Maandagoggend-openinge, touspring op die korfbalbane, handjietennis in die vierkant en natuurlik die geliefde Dirkie gekookte kondensmelk wat by die snoepie verkoop is.

Een dag sal sy egter nooit vergeet nie. 10 September 1981. Sy was in Graad Vyf besig met ‘n Engelse speltoets toe sneeu skielik begin val het.


Helena Aucamp: 1977 tot 1983. FOTO: Verskaf

Vir baie van die kinders was dit die eerste keer dat hulle sneeu sien. Die toets is rekordvinnig voltooi, waarna die onderwyser toestemming gegee het dat almal buite in die sneeu kon speel.

Daar is sneeumanne gebou, sneeuballe gegooi en selfs ‘n sneeubalgeveg tussen die onderwysers en leerders gehou.

Barbara Aucamp: 1979 tot 1985
Barbara onthou Laerskool Brakpan-Oos as ‘n skool vol gelukkige kinders, waar respek vir die skool en onderwysers ‘n natuurlike deel van elke dag was.

Volkspele en skoolkonserte was vir haar van die lekkerste tye op die skoolkalender, terwyl die interhuis-atletiekbyeenkomste altyd groot opwinding gebring het.


Barbara Aucamp: 1979 tot 1985. FOTO: Verskaf

Lewensoriënterng was haar gunsteling vak, veral omdat haar gunsteling onderwyser die klasse aangebied het.

Sy onthou haar as ‘n inspirerende onderwyser en ‘n uitstekende hoogspring afrigter wat baie leerders gemotiveer het om hul beste te gee.

Eugene Aucamp: 1983 tot 1989
Wanneer Eugene aan sy jare by Laerskool Brakpan-Oos terugdink, is dit die onderwysers wat eerste in sy gedagtes opkom.

Hy glo dat die skool se grootste krag nog altyd die toegewyde personeel was wat elke kind met dieselfde respek, sorg en aandag behandel het, ongeag hul omstandighede.


Eugene Aucamp: 1983 tot 1989. FOTO: Verskaf

“Ek weet dat almal baie goed behandel is. Die onderwysers het hul passie en roeping uitgeleef.

“Ek glo die Here het hulle juis op daardie tyd by Brakpan-Oos geplaas om die kinders van ons dorp met goeie onderwys en waardes toe te rus,” het hy vertel.

Eugene onthou ook sy onderwysers met groot waardering: “Baie dankie aan elkeen,” het hy opreg gesê.

Jacqueline Aucamp: 1985 tot 1991
As die jongste van die nege kinders het Jacqueline die Aucamp-era op ‘n hoogtepunt afgesluit. Sy het die skool in 1991 as prefek verlaat. Iets wat haar besonder bybly, is dat sy en haar beste laerskoolvriendin vandag steeds goeie vriendinne is.

“Ek is so bly dat die skool nog bestaan en dat ek deel kan wees van hierdie vieringe,” het sy gesê.
‘n Familie wat deel van Brakpan-Oos se geskiedenis geword het


Jacqueline Aucamp: 1985 tot 1991. FOTO: Verskaf

Vir drie dekades het die Aucamp-gesin nie net skoolbanke gevul nie, maar ook hul merk gemaak as sportlui, prefekte, volkspelers, koorlede, kunswedstrydwenners en lojale Oosies.

“Namens die hele Brakpan-Oos-familie sê ons vandag dankie aan Chris en Lena Aucamp en hul nege kinders vir die onuitwisbare bydrae wat hulle oor drie dekades tot ons geliefde skool gelewer het,” het Michelle gesê.


Die Aucamp kinders wat oor 30 jaar Brakpan-Oos se banke volgesit het. FOTO: Verskaf
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Supplied content

This content originated outside of Caxton Local Media, but we thought that you might find it interesting.

Related Articles

Back to top button