Inwoners sê Tweedy Park se probleme duur voort ondanks Ekurhuleni se beloftes
Baie van die beloftes gemaak in Mei deur die Lid van die Burgemeesterskomitee van Behuising en Menslike Nedersettings is nooit nagekom nie volgens inwoners.
Die woonstelle by die Tweedy Park-kompleks word steeds gekenmerk deur waterlekke, rioolprobleme, krake in die mure en gebrekkige veiligheidstoerusting.
Dit is ondanks ‘n besoek in Mei deur Ekurhuleni se Lid van die burgemeesterskomitee (LBK) vir behuising en menslike nedersettings, Nsizwa Mekgwe.
Die Herald het berig oor die besoek in Mei (CoE responds to mounting complaints at Tweedy Park Old Age Home, 14 Mei) en ‘n stelling vanaf die Stad van Ekurhuleni gedeel waarin klagtes aangespreek is.
Hierdie stelling en die beloftes wat deur die LBK in Mei gemaak is, is volgens die inwoners ‘n spul leuens en leë beloftes.
Toé is daar deur Mekgwe gesê: “Ons is bewus van die werk wat gedoen moet word, bejaardes hier ly onder ondraaglike omstandighede. Namens Ekurhuleni en die burgemeester vra ons om verskoning vir hierdie omstandighede.

“Moet nie dink ons is onbedagsaam nie, die fiskale beperkings van die Stad hou ons terug. Ons het brandblussers gebring, en ons is in gesprek met die kontrakteurs en distrikshoof, om die kontrakteurs se omvang uit te brei na loodgieterswerk.
“Die eenhede (waar waterverwarmers nie gewerk het nie) sal aandag geniet,” het hy gesê.
Volgens James van der Riet, ‘n inwoner van een van die woonstelle, is daar gesê dat daar volstoom met die werk begin is, maar in sekere gevalle is dit nooit voltooi nie.
Twee van die inwoners se waterverwarmers is verwyder om te herstel of te vervang, maar nuwe verwarmers is sedert Mei nooit geinstalleer nie.
Dié twee inwoners moet sedertdien die winter sonder warm water trotseer. Een van die inwoners het intussen warm water uit ‘n ander, leegstaande woonstel gaan haal om te bad en skottelgoed te was.
LEES OOK: Tweedy Park residents voice complaints over neglect and safety risks
Dié uitweg het egter tot ‘n einde gekom toe die stad na bewering die hek na die woonstel toegesweis het.
Drummond Doig, wat hom die afgelope tyd sterk vir Tweedy Park beywer, sê dit is verstaanbaar dat die werk tot dusver gestop het, weens die vertraging met die goedkeuring van Ekurhuleni se begroting.
Noudat die begroting egter goedgekeur is, behoort die werk hervat te word.
“Toe die LBK hier was met al die beloftes was net om goed te lyk, nie om enige probleme werklik op te los nie,” het hy Maandag gesê tydens ‘n besoek aan die woonstelle.
Een van die knelpunte wat tydens daardie besoek uitgelig is, was die toestand van die brandveiligheidstoerusting en -stelsels.

Die brandblussers op elke verdieping van die woonstelblok is gesteel, terwyl die brandslange nie water het nie.
Die LBK het tydens die besoek sertifikate oorhandig aan inwoners en Ekurhuleni-personeel wat noodreaksie-opleiding vir Tweedy Park voltooi het. Daar is ook genoem dat die brandblussers op elke verdieping vervang is.
Hoewel dit wel die geval is, is dit tydens Maandag se besoek uitgewys dat die brandblussers nou in individuele woonstelle gehou word, eerder as in die aangewese kaste in die gange waar dit maklik toeganklik behoort te wees.
Die probleem daarmee, volgens Van der Riet, is dat die toegang tot hierdie blussers in tye van nood te beperk is om werklik veilig te wees.
Nog ‘n groot bron van kommer is die reservoir, wat volgens inwoners daagliks ‘n groot hoeveelheid water lek.
LEES OOK: Inwoners moet self plan maak ná voertuig deur heining by Tweedy Park bars
Ekurhuleni het dié kwessie reeds in Mei aangespreek en destyds gesê: “Daar is tans geen lekke vanaf die dak se reservoir nie.”
Die stad het toe verduidelik dat die mufkolle en alge-aanpaksels die gevolg was van ‘n vorige lek en dat dit aangespreek sou word.
Volgens Van der Riet is die muf en alge egter bloot afgeskrop en is die probleem nooit behoorlik behandel of weer skoongemaak toe dit teruggekeer het nie.
Inwoners hou vol die lek het nooit opgehou nie en het die afgelope tyd selfs vererger, eerder as om op te droog soos Ekurhuleni destyds aangedui het.
Tydens Maandag se besoek is waargeneem dat water reeds op die tweede verdieping op die trappe opdam, wat daarop dui dat die lek steeds nie herstel is nie.

Op die agtste verdieping, waar inwoners die lek aanvanklik aangemeld het, staan ‘n emmer wat die water opvang. Volgens inwoners moet dit daagliks, en soms selfs twee keer per dag, leeggemaak word.
In dieselfde verklaring het Ekurhuleni ook gesê dat die kompleks se veiligheid deur gereelde patrollies van die EMPD in en om die gebou verseker word.
Inwoners wat self elke nag patrollie doen, sê hulle sien egter selde enige EMPD-voertuie in die omgewing. Daarom word die kompleks se hek steeds elke aand gesluit in ‘n poging om veiligheid te verbeter.
Hoewel verskeie sekuriteitsmaatskappye in die verlede aangebied het om gratis ten minste een veiligheidswag snags by die hek te plaas, is hulle volgens inwoners telkens deur Ekurhuleni meegedeel dat dit nie toegelaat word nie.
Die Stad van Ekurhuleni is Maandagmiddag, 6 Julie, vir kommentaar gevra oor die aanhoudende waterlekke, onvoltooide herstelwerk aan waterverwarmers, sekuriteit en die toeganklikheid van die brandblussers. Teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.




