Gerespekteerde Brakpan inwoner sterf op 90 jaar
'n Gerespekteerde inwoner wat sy lewe gewy het aan diens, ontwikkeling en die opbou van sy gemeenskap is oorlede.
Met die afsterwe van Henry Barnard (90) op 26 Julie het Brakpan een van sy bekendste gemeenskapsleiers, ingenieurs en diereliefhebbers verloor.
Barnard se dekades lange bydrae tot die ontwikkeling van die dorp, van infrastruktuur en plaaslike regering tot onderwys en die Brakpan DBV, het ‘n blywende nalatenskap geskep wat nog vir baie jare in die gemeenskap sigbaar sal wees.
Gebore 15 Augustus 1935 is Barnard, of soos hy onder sy vriende en familie bekend was as Ramie, ‘n groot deel gewees van die ontwikkeling van Brakpan.
Gedurende sy loopbaan het hy as stadsingenieur van Brakpan gedien, waarna hy ook as raadslid die gemeenskap met onderskeiding gedien het.
Sy passie vir onderwys het daartoe gelei dat hy as voorsitter van die skoolkomitee van Hoërskool Hoogland gedien het.
Hy het ‘n betekenisvolle rol gespeel in die stigting en ontwikkeling van die skool en het ook op die beheerraad gedien. Henry was ‘n diereliefhebber met ‘n groot hart vir sy gemeenskap.

Deur sy onderhandelings met die plaaslike munisipaliteit het die Brakpan DBV destyds ‘n stuk grond bekom waarop hul gebou opgerig kon word.
As erkenning vir sy jarelange ondersteuning en diens is hy onlangs met lewenslange erelidmaatskap van die Brakpan DBV vereer.
Benewens sy professionele en gemeenskapsbetrokkenheid was duiwevlieg een van Henry se grootste passies. Vir baie jare was hy ‘n trotse lid van die plaaslike duiweklub, waar hy ook op die bestuur gedien het.
Die sport het vir hom nie net oor kompetisie gegaan nie, maar oor toewyding, geduld en die besondere kameraadskap wat daarmee gepaard gegaan het.
As entrepreneur en ingenieur het Henry ook ‘n beduidende bydrae gelewer tot die ontwikkeling van elektriese infrastruktuur regoor Gauteng.
Projekte waarin hy ‘n rol gespeel het, sluit onder andere die elektriese infrastruktuur by OR Tambo Internasionale Lughawe en die straatbeligting in Prince Georgelaan in.
LEES OOK: Vacant Brakpan property blamed for crime, pollution and safety hazards
Dit is slegs enkele voorbeelde van sy uitgebreide bydrae tot die ontwikkeling van die provinsie.
“Henry Barnard was ‘n man van visie, integriteit en diensbaarheid. Hy het geleenthede raakgesien waar ander struikelblokke gesien het en sy kennis en ervaring gebruik om ‘n blywende verskil in die lewens van mense te maak,” het sy dogter, Anita Aucamp gesê.
Sy nalatenskap leef voort in die infrastruktuur wat hy help bou het, in die organisasies wat hy gedien het en in die talle mense wie se lewens hy aangeraak het.
“Hy het ‘n vol, ryk en avontuurlustige lewe gelei, as ingenieur, entrepreneur, gemeenskapsleier, diereliefhebber, duiwe-entoesias, pa, oupa en oupagrootjie,” het sy gesê.
In ooreenstemming met sy eie wens sal daar geen openbare begrafnis wees nie. Hy het gevra vir ‘n stil verassing.
Hy word oorleef deur sy seun, Douglas Barnard, tans woonagtig in die Verenigde State van Amerika, sy dogters Erika Bester en Anita Aucamp, asook sy 11 kleinkinders en 15 agterkleinkinders.
LEES OOK: Work underway to repair collapsed stormwater system in Brenthurst park



