Adv Dick Hattingh onthou vir sy diens aan Brakpan gemeenskap
Adv Dick Hattingh, wat sowat 36 jaar aan die Brakpan Landdroshof verbonde was, is ná ’n lang stryd teen leukemie oorlede.
Adv Dick Hattingh, wat sowat 36 jaar aan die Brakpan Landdroshof verbonde was, is Maandagmiddag ná ’n lang stryd teen leukemie oorlede.
Hattingh was die senior staatsaanklaer by die hof, maar was ook bekend vir sy besondere betrokkenheid by die gemeenskap.
Die Herald het oor die jare gereeld berig oor gemeenskapsuitreikings en opvoedkundige projekte waaraan adv Hattingh sy ondersteuning verleen het.
Van inisiatiewe om geslagsgebaseerde geweld aan te spreek tot projekte wat op die veiligheid en welstand van bejaardes gefokus het, was van die sake wat hom na aan die hart gelê het.
In die hof het hy oor baie jare ’n professionele loopbaan nagestreef en die respek van sy kollegas en hofpersoneel geniet.
In ’n telefoniese onderhoud met sy enigste suster, Zelna Oosthuizen (52), het sy gesê haar broer is Maandagmiddag kort ná 14:00 oorlede.
ALSO READ: Historic WWII Crusader tank rolls into Cosy Corner ahead of centenary
Volgens Oosthuizen was Hattingh vir ’n lang periode in ’n hospitaal in Pretoria, waar hy behandeling vir leukemie ontvang het.
“Hy het intensiewe behandeling ontvang en wanneer hy vir kort tye nie in die hospitaal was nie, het ons na hom omgesien by ons huis in Middelburg,” het sy gesê.
“Hy het sedert Maart nie weer teruggekeer na sy woonplek in Benoni, waar hy saam met ons ma, Rita Hattingh (74), gewoon het nie,” het Oosthuizen bygevoeg.
“Hy het sowat twee weke gelede vir ons gesê dat hy nie meer met die intensiewe behandeling wou voortgaan nie en dat dit sy keuse was om verder by die huis versorg te word.
“Ons het sy wens gerespekteer en hom so gemaklik as moontlik by ons huis versorg totdat hy Maandag hier by ons in Middelburg oorlede is,” het sy gesê.
ALSO READ: Recognising the early warning signs of abuse and taking steps to stay safe
“Ons ma het ook die afgelope tyd by ons gewoon.”
Adv Hattingh laat sy ma en suster agter. Drummond Doig, wat by verskeie organisasies in die dorp betrokke is, het groot lof vir adv Hattingh en het aan die Herald gesê dat hy oor baie jare ’n goeie werksverhouding met hom gehad het.
“Wanneer ons algemene regsadvies moes inwin, om watter rede ook al, was Dick altyd bereid om ons by te staan.
“Hy was ’n `gentleman’, maar tog ook ferm wanneer dit nodig was. Agter sy glimlag en sagte stemtoon was daar ’n ruggraat van staal.
“Alhoewel hy in Benoni gewoon het, het hy ’n sagte plek vir Brakpan en die gemeenskap gehad, en hy sal beslis gemis word,” het Doig gesê.
Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.



