Bekende Brakpan sakeman in sekuriteitsbedryf oorlede
Trevor Gene ‘Toppie’ Raper (59) het ’n blywende indruk op sy familie, vriende, kollegas en kliënte gelaat.
’n Bekende Brakpan-inwoner en gerespekteerde figuur in die plaaslike sekuriteitsbedryf is op 5 Augustus oorlede.
Trevor Gene Raper (59), of Toppie soos hy alom bekend was, laat ’n nalatenskap van vriendskap, diensbaarheid en ’n diep liefde vir sy familie agter.
Trevor het die grootste deel van sy lewe in Brakpan gewoon, waar hy ook skoolgegaan het.
Hy was onder meer ’n leerder aan die Hoërskool Hoogland en het ook die eer gehad om die skool se eerste rugbyspan as kaptein aan te voer.
Ná sy loopbaan in die SAPD het hy sy kennis en ervaring in die sekuriteitsbedryf aangewend. Hy en sy broer, Shawn (51), het aanvanklik saam ’n sekuriteitsmaatskappy begin, waarna Shawn in 2000 op sy eie voortgegaan en SecureTech gestig het.
Trevor het in 2012 weer by die onderneming aangesluit en die wagte-afdeling oorgeneem. Hoewel sy gesondheid hom die afgelope tyd gekniehalter het, het hy steeds ’n aktiewe rol in die besigheid gespeel.

Volgens Shawn was sy geliefde broer tot die einde toe betrokke en het hy veral gedurende die laaste paar maande die finansiële sy van die ondernemings hanteer.
“Trevor het ’n ‘empire’ aan die wagte-kant van ons besigheid opgebou. Hy het oor die jare baie respek van sy kliënte gekry,” vertel hy.
“Terwyl hy hoofsaaklik vir die wagte-afdeling verantwoordelik was, is ek meer betrokke by die gewapende reaksie- en tegniese afdelings,” het Shawn gesê.
“My broer was ’n ware mense-mens wat altyd bereid was om ander te help, selfs mense wat hom voorheen te na gekom het,” vertel Shawn.
“Hy het altyd grappies gemaak, maar hy kon ook bitter streng wees. Reg was reg en niks anders nie.”
ALSO CHECK: Recognising the early warning signs of abuse and taking steps to stay safe
Vir diegene wat hom geken het, was sy familie egter die belangrikste deel van sy lewe.
“Hy het sterk morele waardes gehad en het volgens sy naastes nooit sleg oor iemand gedink of iemand iets slegs toegewens nie,” het Shawn bygevoeg.
Trevor was ’n groot ondersteuner van die Blou Bulle en het dit geniet om saam met vriende en familie te kuier.
Hy het ook ’n liefde vir jag gehad, hoewel hy dit die laaste paar jaar nie meer kon beoefen nie. Hy laat sy lewensmaat, Lizelle, wat volgens die familie soos sy vrou was, asook sy kinders en kleinkinders agter.
Sy dogter, Michelle (39), en haar kinders, Kiaan (18), Miane (16) en Lianne (15), asook sy seun, Michael (32), en sy driejarige seun, Levi, treur oor sy heengaan.
Familie, vriende en kollegas het Vrydagaand by SecureTech bymekaargekom, waar ’n nagwaak vir Trevor gehou is. ’n Roudiens vind Vrydag 14 Augustus om 14:00 by die PPK Kerk, Lighuis Gemeente, plaas.




