Twee uit drie vir Brakpan
Brakpan Rugbyklub het Saterdag op Bosman Stadion twee van drie Peregrine-liga eindstryde gewen, terwyl die eerstespan met net een punt teen Vereeniging verloor het.
Die spanning het Saterdag hoog geloop op die Bosman Stadion toe Brakpan Rugbyklub in drie Peregrine-liga-eindstryde om silwerware meegeding het.
Die eerste span was net een punt daarvan om ’n drievoudige oorwinning te vier, maar moes ná ’n titaniese stryd teen Vereeniging met 20-19 die knie buig.
Brakpan het vroeg momentum gekry en het met rustyd 16-7 voorgeloop. Vereeniging het egter in die tweede helfte teruggeveg en uiteindelik die wedstryd met ’n enkele punt beklink.
Die Lilly Whites, Brakpan se tweede span, het in hul eindstryd teen Springs te staan gekom. ’n Oorgehaalde span het met rustyd 27-14 voorgeloop en die oorwinning met 40-33 verseker.
Brakpan se o21’s het ook geen fout gemaak nie.
Die span het met die rustydfluitjie 26-7 teen Vereeniging voorgeloop en hul voorsprong in die tweede helfte verder uitgebou om met 37-14 as ligawenners van die veld te stap.

Met twee van die drie titels in die sak, kan Brakpan met trots terugkyk op ’n sterk dag op die rugbyveld. Die volgepakte Bosman Stadion het verder tot die atmosfeer bygedra en gewys hoe die ondersteuning vir die klub groei.
“Rugby het Saterdag geseëvier en die telbord het altyd die laaste sê. Dit is wel nie lekker dat ons eerstes met een punt verloor het nie, maar ons leer daaruit. Ons gaan net harder en slimmer werk,” het klubvoorsitter Frikkie Bosman gesê.
Bosman het die spelers, afrigters en bestuur geloof vir hul toewyding gedurende die Peregrine-liga.
“Ek dink dit is duidelik dat ons klub groei op elke vlak en ons gaan aanhou om daarop voort te bou,” het hy gesê.
Hy het ook die ondersteuners en borge vir hul rol in ’n suksesvolle finaal bedank.
ALSO CHECK: Young leader gives hope to community
ALSO CHECK: Letter: Why car guards deserve respect and dignity



