BlogsOpinion

In die kollig

Leer Hettie Basson ken.

Hettie Basson (65) is die voorsitter van die Brakpan-tak van die Vroue Landbou-Unie. Sy het vir jare op die dorp gewoon maar woon deesdae by haar seun en sy gesin in Edelweiss, Springs.

• Hoe lank is jy al ‘n lid van die VLU?

Ek is die afgelope 16 jaar lank ‘n lid van die Brakpan-tak.

• Hoe lank is jy al die voorsitter van die tak en wat behels jou pligte?

Vanjaar is my 11de jaar as voorsitter. Dit is basies my plig om al die reëlings vir die tak te maak en te sorg dat alles seepglad verloop. Dit verg soms baie tyd, maar ek verruil dit vir niks in die wêreld nie.

• Die oragnisasie lê jou na aan die hart, wat is so spesiaal daaraan?

Die samesyn tussen die vroue is baie besonders. ‘n Mens leer soveel nuwe mense ken en dit gun ‘n mens ook die geleentheid om jou liefde vir jou naast uit te leef. Daarbenewens leer ons geweldig baie. Elke maandvergadering is ‘n heerlike gedoente waar ons saam kuier, maar ook baie wyser word.

• Sou jy ander vroue aanraai om aan te sluit, en hoekom?

Baie beslis en sonder twyfel. Die organisasie bied soveel geleenthede.

• Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek het nie veel vrye tyd nie, maar dit is vir my baie lekker om ‘n boek nader te trek en te lees. Natuurlik geniet ek dit ook om handwerk te doen.

• Waar is jou gunsteling vakansie plek?

Ek is baie gelukkig tussen die berge. Dit maak my rustig en wanneer daar ‘n berg in sig is, is ek gelukkig.

• Kan jy sonder ‘n selfoon leef?

Ja en nee. Dit is een van daardie onmisbare euwels. Dit is ‘n baie handige ding maar soms is dit ook ‘n verpesting. So as ek moet kies kan die selfoon maar by die huis bly.

• Verkies jy dit om uit te eet of liewer self kos te maak?

Ek gee nie om, om kos te maak nie, maar daar is darem niks lekkerder as om saam met vriende of geliefdes ‘n “tjoppie” op die vuur te gooi nie.

• Watter gereg kan jy toe oë maak sonder dat dit “flop”?

Ek kan nogal goed kook en maak nie sommer “flops” nie. Macaroni en kaas is maar altyd ‘n staatmaker, maar ek maak dit nog op die oudtydse manier met melk en eiers.

• Het jy nog enige doelwitte wat jy graag wil breik?

Dit is nie regtig ‘n doelwit nie, maar ek sal baie graag deur Namibië wil toer.

• Sal jy eerder in ‘n grot vol vlermuise of spinnekoppe beweeg?

Verkieslik nie een van die twee nie, maar as dit moet sal dit beslis vlermuise wees. Nee wat, spinnekoppe en ek is nie maatjies nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button