
Simoné Herbst (13) is die hoofdogter van Laerskool Die Arend. Sy woon saam met haar ouers, Ilze en Willem Herbst, en haar broer Wian (15) in Sonneveld.
• Jy is die hoofdogter van Laerskool Die Arend, wat beteken dit vir jou?
Dit is vir my ’n baie groot eer en ek sien dit as ’n groot voorreg.
• Die jaar staan einde se kant toe, wat staan tot dusver vir jou uit?
Definitief die leierskamp aan die begin van die jaar en al die lekker sporttoere wat deur die jaar plaasgevind het, dit was ’n belewenis. Goeie tye saam met goeie mense. En dan ook ons skool se asemrowende revue wat onlangs plaasgevind het.
• Neem jy aan sport deel, vertel.
Natuurlik. Sport is een van my grootste passies. Dis vir my so lekker en ek neem omtrent deel aan alles: atletiek, swem, netbal, landloop en hokkie. Ek sal ook graag met my sport in die hoërskool wil aangaan.
• As jy nie bedrywig is met skoolsake nie, wat doen jy graag?
Ek hou verskriklik baie van teken. My ma se een hangkas is al vol van al my storieboekies en prente wat ek van kleins af geskryf en geteken het. As ek nie teken nie, hou ek daarvan om buite te wees en dit is vir my lekker om te kamp.
• Na watter hoërskool gaan jy volgende jaar?
Ek gaan na Hoërskool Oosterlig toe.
• Het jy al besluit watter beroep jy eendag wil volg?
Wel, my kop en my hart voel albei sterk oor twee verskillende beroepe, maar ek dink dit trek meer na ’n aktrise se kant toe. Kyk net na Leandie du Randt, sy is beslis my grootste rolmodel, sy is ’n aktrise, sy skryf inspirerende boeke en hou motiveringspraatjies vir mense regoor Suid-Afrika en dan kry sy dit nogsteeds reg om so “super duper fine” ook te lyk.
• Hoeveel tyd spandeer jy daagliks op jou selfoon en dink jy die jeug van vandag spandeer te veel tyd op hul selfone?
Ek bring nogal baie van my tyd op my selfoon deur en ja, ek dink dis ’n massiewe probleem by baie jongmense van vandag, want dit maak hul minder aktief en dit beïnvloed hul skoolwerk.
• Wat is jou gunsteling kos?
Hoender of pasta (spaghetti is my gunsteling).
• As jy vir een dag die President van die land sou kon wees, wat sou jy doen?
Sjoe, waar begin ek? Ek dink ek sal dadelik die doodstraf terugbring, dan sal daar nie so baie kriminele rondloop en ons tronke volmaak nie en niemand hoef dan in vrees te lewe nie. Dan sal ek ook graag wil seker maak dat almal in ons land ’n werk en ’n blyplek het. Laastens sal ek ’n “skoonmaakdag” instel waar almal moet inspring om ons vuil land ’n bietjie skoon te maak. Ons hoef nie ’n ryk land te wees nie, want al wat nodig is, is dat dit skoon is en almal werk en leef in vrede saam.
• Waarvoor is jy bang?
Geweld, moord, oorlog, mense en diere wat gemartel en doodgemaak word, families wat uitmekaar val, natuurrampe en die donker. Ek is nie bang vir die donker self nie, maar wel vir dit wat in die donker is. Ek glo egter soos wat Joe Niemand sing: “Ek sal nie bang wees nie!”



