BlogsEditor's noteOpinion

In die kollig

Leer ken Lorna Prinsloo.

Die voormalige mede-eienaar van Trippe Trappe Trone Kleuterskool, Lorna Prinsloo (71), is baie trots op die kleuterskool, wat onlangs sy 17-jarige bestaan gevier het. Lorna is getroud met Peet en die egpaar woon in Kenleaf, uitbreiding 12.

• Jy was die stigter van die kleuterskool. Hoe het dit alles begin?

Sewentien jaar is ‘n lang tyd, maar vir my voel dit soos die dag van gister. Wanneer jy op ‘n plek in jou lewe kom waar jy gestroop is van alles, dan tree God in. So het dit dan ook met my gebeur. Op daardie dag in Junie 1999 het ek dan ook die opdrag van my Hemelse Vader ontvang om Trappies te begin. Tot die naam is aan my gegee. Ek het besef dat ek hierdie opdrag moes uitvoer aangesien ek al baie jare hieroor gedroom het. Daleen, my dogter, en haar vriendin het gehelp om 30 pamflette te druk en ons het dit versprei. Tot my vreugde, het 17 van die ouers op my pamflet gereageer. Die wonderlikste van alles was dat die meeste van hulle ouers was vir wie ek in Graad Een, aan die Laerskool Dalview, skool gehou het. Met nog geen plek waar ek die skooltjie kon begin het nie, het ek met hulle onderhandel en almal het my vertrou en hulle inskrywingsfooi betaal. Ek het toe in Dirk van der Hoffstraat ‘n stukkie grond en een lokaal gehuur.

• Hoeveel kinders was daar op die eerste dag en hoeveel kinders is daar vandag?

Ek het die skool op 10 Januarie 2000 geopen saam met Phumzilie Ntuli, wat my helper was. Na nege maande was daar oor die 70 kleuters en het ons verhuis na Gloucesterlaan. Elke jaar het ons skool gegroei. Ons het vandag 166 kinders.

• Wat is jou resep vir sukses?

Al wat jy nodig het om suksesvol te wees is ‘n mandjie vol geloof, hoop en liefde. Jy moet vasberade en toegewyd wees, bereid wees om groot opofferings te maak en moet nooit vergeet dat jy dit nie kan doen sonder die Here se hulp nie.

• Is jy die alleen eienaar?

Tot en met 2007 was ek die alleen eienaar. Ek het oor die 100 kleuters gehad en besef ons sal ‘n groter plek moet kry. Weer het ons Skepper voorsien en die eiendom langs die skool was op die mark. Daleen, my dogter, ook ‘n onderwyseres, het toe die mede-eienaar geword.

• Jy het vir baie jare skool gehou. Is dit waar jou liefde vir en belangstelling in kinders begin het?

Ek het 32 jaar skool gehou. Die laaste 10 jaar was ek departementshoof in die junior afdeling. Ek wou, vandat ek kon onthou, altyd ‘n juffrou wees. Ek het 28 jaar vir Graad Eens klas gegee. Dit was die bevredigendste werk, om hulle te leer lees en skryf. Ek is nou 48 jaar lank besig om met kinders te werk. Die laaste 17 jaar was die beste.

• Is daar tyd om ‘n blaaskans te neem en te ontspan? Wat doen jy dan graag?

Ek is baie lief vir tuinmaak. Daar voel ek die naaste aan my Skepper. Alles wat ek en my dogter aangetrek het, toe ek jonk was, het ek self gemaak. Naaldwerk is my tweede liefde. Ek doen ook graag mosaïek werk; my tuin is vol daarvan.

• Waarvoor sal jy jouself vinnig vererg?

Ek kan vinnig ergerlik raak as mense laat is vir ‘n afspraak. Leuenaars en onregverdigheid staan my ook glad nie aan nie.

• As jy enige vyf mense kan nooi vir ete, wie sal dit wees?

Ek sal graag die mense wat naaste aan my is nooi. My kinders, Daleen, Wessel, Nico en Hein, asook my beste vriendin, Sue.

• Watter eienskappe in ‘n mens is vir jou belangrik?

Eerlikheid, vriendelikheid en bedagsaamheid. Indien jy hierdie eienskappe kan bemeester, sal jy ver kom.

• Sal jy ooit Brakpan verruil vir ‘n ander dorp?

Ek en my man is nou 49 jaar getroud en ons bly al 39 jaar in Brakpan. Ek is baie gelukkig hier. Ek ken baie mense omdat ek so lank hier skool gehou het en die kleuterskool hier het. Ek glo nie ek sal weggaan nie; hierdie dorp en sy mense het my hart gesteel. As enigiets onvoorsiens gebeur sal ek terug keer na Namibië, waar ek groot geword het, en in Henties gaan bly.

• Indien jy die horlosie kon terugdraai, sou jy enigiets verander?

Ek het ‘n vol lewe gehad. My man is die beste lewensmaat wat ek kon kies. Ek het alles gedoen wat ek graag wou doen. Ek sou niks wou verander nie. Op die oomblik is ek op ‘n baie goeie plek. Ek het verlede jaar uiteindelik ‘afgetree’ en die skool aan my dogter oorgegee. Ek vertrou haar met alles en kon nie ‘n beter keuse gemaak het nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button