Ria Nel (55) is een van drie huismoeders wat daagliks na die kinders van Mother’s Nest in Brenthurst omsien. Mother’s Nest het sy ontstaan 23 jaar terug gehad en die kenmerkende spierwit gebou is ’n veilige hawe vir mishandelde kinders van alle ouderdomme.
• Hoe lank is jy al by Mother’s Nest betrokke?
Ek het sewe jaar gelede hier begin werk.
• Watter rol vertolk jy by Mother’s Nest?
’n Huismoeder verrig maar al die take wat ’n ma in ’n normale huishouding sal verrig. Ons sorg vir die kinders se maaltye, sien toe dat hulle elke oggend reg is vir skool, help met huiswerk, kyk na die wat siek is, maak huis skoon en verleen maar hulp waar ons kan.
• Hoeveel kinders word daar tans by Mother’s Nest gehuisves?
Ons het op die oomblik 14 kinders maar dit wissel.
• Hoe het jy by die huis betrokke geraak?
Ek het ’n advertensie oor die radio vir ’n pos behoor en het besluit om aansoek te doen. Na die onderhoud is ek as huismoeder aangestel.
• Wat is die uitdagings wat jy moet oorkom?
Om met die kinders te werk kan soms ’n uitdaging wees, want ons almal wat hier werksaam is wil vir die kinders ’n goeie fondasie gee sodat hulle eendag verantwoordelike volwassenes sal wees.
• Watter deel van jou werk is vir jou die lekkerste?
Dit is harde werk om soveel kinders se belange op die hart te dra maar die kinders se liefde maak dit beslis altyd die moeite werd. ’n Onverwagse drukkie en ’n lekker geselsie is altyd kosbaar.
• Hoe neem jy afskeid van ’n kind vir wie jy lank gesorg het en hou jy kontak daarna?
Dit is maar altyd moeilik en hartseer as ’n kind weggaan want jy raak baie lief vir hulle. Baie van ons kinders bly wel in kontak. Soms met ’n kuiertjie of deur middel van Facebook.
• Is jy van mening dat daar genoeg gedoen word om kinders en hul regte te beskerm?
Daar is wel sekere dinge in plek maar ek glo dat daar kan altyd meer gedoen kan word. Elke kind op hierdie aarde is kosbaar en hul regte moet altyd ’n prioriteit wees.
• Indien jy enige ander beroep kon kies, wat sou dit wees?
Ek sou beslis weer wou doen wat ek nou doen. Ek sou net op ’n jonger ouderdom reeds dié beroep aangepak het.
• Wat sou jy met ’n miljoen doen?
Ek sou graag meer plekke vir mishandelde kinders op die been wou bring.
• Beskryf jouself in vyf woorde.
Ek glo ek is liefdevol, hardwerkend, bedagsaam, hulpvaardig en eerlik.



